Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hendricks benut tuisbly om te help

Die beste manier om die nasionale inperking van 21 dae te oorleef, is om ’n roetine te kry en daarby te hou, anders sal jy mal raak.

Cornal Hendricks saam met sy vrou, Stephanie, en hul dogter Calsey.

Só glo Cornal Hendricks, die Springbokvleuel van die Bulle. Hendricks is in week twee van sy inperking – of self-isolasie – nadat hy saam met die Bulle-span vanaf Australië teruggekeer het.

Hendricks weet egter baie goed hoe die lewe jou kan omdop.

As ’n seker keuse vir die Springbokke is ’n hartkwaal by hom gediag­noseer wat hom vier jaar lank uit die spel gehou het.

Sy terugkeer tot rugby is ’n storie wat baie mense inspireer, maar dit laat hom goed verstaan hoe om dinge waarvoor hy lief is, te waardeer.

“Daar was baie tye in daardie vier jaar wat ek myself van die wêreld afgesluit het. Toe ek gehoor het ek kon nie rugby speel nie, wou ek nie mense sien nie; dit was ’n slegte tyd,” erken hy.

“Ek het geleer om na binne te kyk – en dit is nou ’n tyd wat baie mense dit kan toepas. Soms is ons so besig en ons het nie die tyd nie, omdat ander goed jou so erg besig hou. Nou is die ideale tyd om te kyk na jou eie situasie.

“As jy ’n rugbyspeler is, is dit tyd om te dink wat jy ná rugby gaan doen. Jy kan mooi gaan sit vir 21 dae en dink wat jy kan doen as jy nie rugby speel nie, ook aan wat jy kan doen terwyl jy speel.

“Mense spandeer tyd op dinge wat nie saak maak nie. Soveel kere raak ’n mens besig en jy kry nie tyd vir die klein dingetjies nie. Soveel keer jaag ons net wind.”

Hendricks voel veral bekommerd oor mense in die minder bevoorregte gebiede, waar hy grootgeword het.

Mense wat ’n verskil kan maak in hierdie tye, moet dit doen, al is dit net om iemand met iets klein te help.

“Ek en my vrou kom uit minder bevoorregte gemeenskappe. Baie mense, toe hulle van die inperking gehoor het, het na hul strandhuise of ’n gemaklike omgewing toe gegaan. Baie mense het nie daardie gemak nie.

“Van waar ons kom, bly mense in hutte en daar is nie spasie om hulself besig te hou nie. My hart gaan baie uit na hierdie mense. Soms besef ek hoe selfsugtig ons is, om hulle nie te help nie.

“Mense wat ’n verskil kan maak in hierdie tye, moet dit doen, al is dit net om iemand met iets klein te help.”

Hendricks se laaste paar weke is soos ’n wipplank. Hy is beseer ’n dag voor die Bulle se wedstryd teen die Reds.

Hy het die Sondag nadat die Superrugby-reeks opgeskort is, na Suid-Afrika teruggevlieg.

Toe moes hy wag om vir die koronavirus getoets te word en, weens sy verpligte self-isolasie, kon hy nie skanderings ondergaan vir sy beseerde knie nie.

Eers toe hy negatief getoets is, kon hy die skandering laat doen. Hy is nou vir ’n tydperk van drie tot vier weke uit rugby.

Maar om deur die stil tye te kom, moet jy ’n roetine kry. Syne sluit in rehabilitasieoefeninge en gimnasiumwerk by die huis in die oggend, voor gesinstyd met sy dogtertjie en dan Netflix, waar hy saam met sy vrou voor die televisie boer.

“Jy kan net soveel flieks kyk. En jy kan nie uitgaan nie. Ek is ’n aktiewe ou en hou maar van besig bly. Ek het my gimnasium-program en die airbike, maar dis moeilik, want ons erf is nie so groot nie,” lag hy.

“Dis nie maklik nie, flippit! My fokus is om my rehab klaar te maak en my knie 100 persent te kry.

“Hopelik, met al hierdie gymwerk, gaan ek uitstap en soos ’n monster lyk as ek terug Loftus toe gaan.”

En as hy nie fliek en gym nie? “Ek kap ’n braaitjie,” lag Hendricks. “Dit is mos ook lekker.

“Die ouens sê as jy voor 12 ’n bier oopmaak, het jy ’n probleem, maar iemand het my herinner dit is 12 uur iewers in die wêreld. In snaakse tye soos dié, is dit die braai wat die beste is.

“Die vuurtjie gee net ’n ander atmosfeer.”

Meer oor:  Cornal Hendricks  |  Covid-19-Virus  |  Inperking  |  Springbok  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.