Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hentie was ‘ ’n rugbyman in murg en been’

’n Merkwaardige, lojale en joviale rugbyman.

Wynand Claassen, voormalige Springbok-kaptein, het Hentie Serfontein Vrydag so beskryf.

Hentie Serfontein. Foto: Argief

Serfontein (79), een van die grotes in Blou Bul-rugby, het Donderdagaand ’n beroerte gehad en is vroeg Vrydagoggend in Pretoria dood.

Hy sou volgende maand sy 80ste verjaardag gevier het.

“Ek het hom baie jare geken. Ons paadjies het destyds by die Tukkies gekruis toe hy by die juniors betrokke was.

“Hy was ’n wonderlike mentor vir so baie jong outjies en was uiteindelik ’n groot gees op Loftus Versfeld,” sê Claassen.

Serfontein het die legendariese wyle prof. Fritz Eloff as die president van die destydse Noord-Transvaal Rugbyunie opgevolg en het van 1991 tot 1997 in die amp gedien.

Serfontein het ook diep spore in Suid-Afrikaanse rugby gelaat en het onder meer die eertydse Sarvu op die Internasionale Rugbyraad (IRR) verteenwoordig.

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het in ’n verklaring gesê Serfontein sal onthou word vir sy onbaatsugtige diens en toewyding op alle vlakke van die spel.

Hy was ’n wonderlike mentor vir so baie jong outjies en was uiteindelik ’n groot gees op Loftus Versfeld

“Dit is met groot hartseer dat ons hulde bring aan dié geliefde oudpresident,” lui die BBM se verklaring.

Serfontein het in 1997 ’n groot rol gespeel toe die Noord-Transvaal Rugbyunie die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) geword het.

Burger Geldenhuys, voormalige ystermanflank van die Ligbloues, sê hy sal Serfontein onthou as een van daardie administrateurs wat jaar in en jaar uit langs die rugbyveld gestaan het.

“Ek sal nooit vergeet hoe ek hom destyds by Tukkies uit die pad geloop het nie. Daar was twee o.20-spanne wat teen mekaar in ’n proefwedstryd gespeel het en Hentie het sommer die fluitjie gevat. Ek het hom per ongeluk uit die aarde geloop en hy het my daarna altyd daaraan herinner dat ek dit doelbewus gedoen het.

“Hy is nou oorlede en ek kan in alle eerlikheid sê dit was nie die geval nie. Ek en Naas (Botha) was eintlik sy favourites gewees.”

Geldenhuys sê Serfontein het rugby gedien.

“Ek dink nie jy kry meer sulke rugbymanne in murg en been soos hy nie.”

Serfontein, ’n boorling van Kroonstad, het in 1973 as ’n prokureur in Pretoria begin praktiseer en het hom as ’n familieregskenner onderskei.

Sy vrou, Pikka, is twee jaar gelede dood.

Serfontein laat twee dogters en ses kleinkinders agter.

Meer oor:  Blou Bulle Maatskappy  |  Oorlede  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.