Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Herbst reg vir stryd om Leeus se nr. 3-trui

Daar is vir hom niks soos om weer die tuisbodem van Suid-Afrika onder sy voetsole te voel nie, sê Wiehahn Herbst, die vaskopstut wat hom by die Leeus aangesluit het.

Wiehahn Herbst, die Leeus se aanwins op vaskopstut, sê dit voel vreemd om met ’n masker te oefen. Foto: Frans Lombard, Leeus-rugby

Nadat hy etlike jare vir die Ierse klub Ulster gespeel het, het Herbst verlede jaar teruggekeer na Suid-Afrika en ’n vlugtige draai by die Blou Bulle in Pretoria gemaak, voordat hy hom nou by die Leeus in Johannesburg aangesluit het.

“Dit is ’n seën om terug te wees in Suid-Afrika. Jy mis die sonskyn, jy mis braaivleis, jy mis die Bosveld en om te kan gaan jag en ja, daar is maar net nie nog ’n plek soos Suid-Afrika nie,” sê Herbst.

Al is jag een van sy groot stokperdjies, is dit weens die inperking vir eers op die lange baan geskuif, maar nou gaan hierdie stewige vaskop jag maak op die nommerdrie-trui van die Leeus.

Maklik gaan dit nie wees nie, en dit besef hierdie oud-Haai beslis.

Hy staan nou in ’n ry waarin een van sy eertydse Haai-spanmaats en mentors, Jannie du Plessis, asook nog ’n Springbok, Ruan Dreyer, en Carlu Sadie hulle ook bevind.

“Kompetisie bring egter die beste in my na vore en ek deins nie terug vir die uitdaging wat daar op my wag nie. Ek reken geen ander provinsie in die land beskik nou oor die diepte op vaskop as wat ons nou hier by die Leeus het nie,” sê Herbst.

Soos elke stut in die land wat sy sout werd is, smag Herbst nou al geruime tyd daarna om weer slaags te raak met teenstanders en sy spiere daar in die enjinkamer te kan bult.

“Ons kan darem nou al weer in die oefensessies teen ’n eenman-skrummasjien oefen. Dit is darem iets. Ek het in die inperking ook by ’n skool daar naby waar ek bly ’n groot trekkerband ontdek en toe met dié aan die stoei geraak om kragwerk te doen en van frustrasies ontslae te raak,” sê hy.

Die Leeus-losvoorspeler Willem Alberts ontsmet ’n stel gewigte in die gimnasium. Foto: Frans Lombard, Leeus-rugby

Herbst erken hy het nie in die tyd wat hy by die Blou Bulle was soveel speelkans gekry soos hy graag sou wou nie en hoop hy kan nou by die Leeus daarvoor opmaak.

“Dit is lekker om weer met ’n paar bekende gesigte herenig te wees by die Leeus. Ouens soos Jannie en Willem Alberts, met wie ek groot vriende is.

“My en Willem se vroue is ook vriendinne. Dit is ook lekker om weer vir oom Rudolf (Straeuli, die uitvoerende hoof) te kan sien en met hom te gesels (hulle was ook saam by die Haaie).”

Wat die nuwe en uitdagende oefenmetodes (in die Covid-19-pandemie) betref, sê Herbst dit verg nogal ’n aanpassing.

“Jy mis dit om in die groter groep te oefen en jy kan nie eens by lynstane van jou spanmaats optel nie. Van die ander ouens in my klein oefengroep is Willem (Alberts), Vincent Tshituka en Krappies (Van den Berg). Dit is ook vreemd om in die gimnasium met ’n masker op te oefen,” sê hy.

Herbst het ervaring daarvan om in sowel die Suidelike en Noordelike Halfrond te speel en sê elkeen het maar sy voor- en nadele.

“In die Suidelike Halfrond is die weer omtrent dieselfde, maar die groot tydsverskil (tussen die deelnemende lande) is moeilik. Waar jy nou weer in Europa nie die tydsverskil het nie, maar as jy daar in Januarie of Februarie moet speel, sal jy behoorlik bibber en beef.

“Kry jy egter ’n mooi sonskyndag daar, kan die tempo van die spel net so vinnig as in die Suidelike Halfrond wees,” sê hy.

Meer oor:  Leeus  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.