Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Het Eddie se ‘spioen’ Bokke ook afgeloer?

Eddie Jones se bekentenis vroeër vandeesweek dat hy vroeër jare op ander spanne gespioeneer het, werp nuwe lig op ’n “spioenasie-drama” wat hom in 2001 op ’n Springbok-toer in Perth afgespeel het, skryf Stephen Nell.

Eddie Jones toe hy die Wallabies destyds afgerig het. Hy het vandeesweek erken dat hy voorheen op ander spanne gespioeneer het. Foto: Getty Images

Joost van der Westhuizen het hom raakgesien – ’n man in ’n maroen-viertrekvoertuig wat op ’n parkeerterrein by die Palmyra-rugbyklub sit en die Springbokke se oefensessie verfilm.

Dit het danksy die Bokke se Australiese hulpafrigter van daardie tyd, Tim Lane, nie lank geneem om die man as Damien Holden te identifiseer nie.

Holden en die Wallabies se destydse afrigter, die einste Eddie Jones, was in hul speeldae spanmaats in Sydney se Randwick-rugbyklub.

Holden het aangevoer dat hy die sessie om 16:15 verlaat het voordat die Bokke met hul gestruktureerde oefeninge, waarin iemand hul taktiek en bewegings sal kan sien, begin het. Inderwaarheid het hy slegs van die een parkeergebied na die ander by die klub gery.

Om 17:00 is hy weer deur Lane en die Bokke se destydse kaptein, Bob Skinstad, gesien.

Holden het uiteindelik die perseel vinnig verlaat toe lede van die Bokke se bestuurspan na sy motor gestap het.

Die Bokke was oortuig dat daar op 13 Augustus 2001 op hulle gespioeneer is, maar Jones het sy onskuld bepleit en op die aanval gegaan eerder as om enigiets te erken.

“Ons weet niks daarvan nie. Dalk is dit ’n bietjie van ’n laertrek-mentaliteit,” het hy gesê.

Harry Viljoen, die Bokke se afrigter, het egter nie in Jones se onskuld geglo nie.

Harry Viljoen, die Bokke se afrigter in die vroeë 2000’s, is ontnugter deur die uiterstes waartoe ander internasionale afrigters sou gaan om ’n voordeel bo hul teenstanders in ’n toets te bewerkstellig. Foto: Getty Images

“As ’n sakeman bekommer dit my dat rugby in hierdie rigting beweeg. As dit is waaroor rugby gaan, wil ek nie meer by die spel betrokke wees nie,” het hy gesê.

Die stryd tussen die Bokke en die Wallabies het met 14-elk gelykop geëindig en daarna was dit Nieu-Seeland toe vir ’n kragmeting met die All Blacks in Auckland.

Dáár het die Kiwi’s se afrigter, Wayne Smith, in die aanloop tot die toets onthul dat hulle ook slagoffers van die Aussies se skelmstreke was.

Smith het die vorige jaar gesien hoe die Wallaby-senter Nathan Grey in Sydney op ’n heuwel naby die All Blacks se oefenveld sit en aantekeninge van hul agterlyn-bewegings maak.

“Ek het met Rod Macqueen (toe die Wallabies se breier) gesels en ons het lekker gelag. Ek het ’n paar fopbewegings gebruik om die Wallabies om die bos te lei, en dit het gelyk asof dit gewerk het. Ons het die toets gewen,” het Smith gesê.

Hy het bygevoeg dat die All Blacks hulle nie aan soortgelyke gedrag skuldig maak nie, maar die Kiwi’s is nie onskuldig in hierdie verband nie.

Selfs al is daar nie onomwonde bewyse nie het onderduimsheid die norm eerder as die uitsondering op die reël in die spel geraak.

Dis welbekend dat die All Blacks aangevoer het dat ’n kelnerin, ene Suzie, hulle voor 1995 se Wêreldbeker-eindstryd vergiftig het. Die waarheid is dat van hulle hul spanprotokol verbreek het deur buite hul hotel in ’n seekos-restaurant te gaan eet. Hulle het daar voedselvergifting opgedoen en dit vir hul afrigter, Laurie Mains, weggesteek.

’n Meeluistertoestel het selfs ter sprake gekom toe die All Blacks in 2017 voor ’n toets teen die Wallabies in Sydney een in die spankamer in hul hotel ontdek het.

As die Wallabies hoegenaamd enige inligting ontgin het, het dit beslis nie gehelp nie. Hulle het met 34-54 verloor.

As die spioenasie tot meeluistertoestelle en binne-inligting uit kampe oorgaan, raak dit ’n probleem. Dit gebeur wel van tyd tot tyd.

Die realiteit is dat baie afrigters nie vingers sal wys nie, want hulle sal voor hul eie deur moet vee. Dis veral by kapteinsoefeninge, waar die spanne wat weg van die huis speel op die vooraand van die wedstryde ’n geleentheid gegun word om in die stadion te oefen, waar die geleentheid om spioenasie hom voordoen.

Enigiemand van die tuisunie kan dan in ’n losie sit en die sessie na hartelus verfilm.

Smith se benadering om fopbewegings te oefen is waarskynlik die beste teenvoeter. As ’n span ’n slagoffer van spioenasie is, kan hy net homself blameer, want dit het in die beroepsera deel van die spel geword.

As die spioenasie egter tot meeluistertoestelle en binne-inligting uit kampe oorgaan, raak dit ’n probleem. Dit gebeur wel van tyd tot tyd.

Jones het ondanks sy beweerde skelmstreke ’n plek in Suid-Afrika se harte. In 2007 was hy op die Bokke se bestuurspan vir die Wêreldbeker-toernooi en die span was danksy hom baie gevaarliker op die aanval as wat hulle andersins sou wees. Só gevaarlik dat hulle die toernooi gewen het.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Eddie Jones  |  Sesnasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.