Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Het jy tokse? Kom Maandag Loftus toe!
Curwin Bosch, losskakel van die Haaie, sal bykomende motivering hê wanneer sy span in Durban teen die Bulle te staan kom. Foto: Gallo Images

Almal met rugbystewels is welkom om Maandagaand by Loftus Versfeld vir ’n Bulle-proefwedstryd aan te meld.

Jake White was vol grappe toe hy die afgelope week oor die moontlike “dubbele bespreking” van die Bulle volgende Saterdag uitgevra is.

Die Bulle weet hulle speel dan, maar weet nog nie in hoeveel wedstryde nie.

Keer die Ligbloues Saterdag in Durban met ’n bonuspunt terug huis toe, pak hulle hul tasse om Benetton in Treviso in die eindstryd van die Reënboogbeker-kompetisie te pak.

Die Bulle moet volgende Saterdag ook tuis teen die Westelike Provinsie speel in die eerste ronde van die Curriebeker-reeks.

Wanneer White sê dit is “opwindende tye hier by die Bulle”, bedoel hy dit tong-in-die-kies.

Daar sal inderdaad spelers genooi word vir proewe Maandag by Loftus ná die naweek se drie Carltonbeker-klubwedstryde.

“Hulle sal soos in die ou dae genooi word vir proewe. Om ’n bietjie lekker te kom koppe stamp en ons sal hopelik ’n groep van 23 spelers bymekaar kan kry om teen die WP te speel.”

Maar voordat daar gedroom word van ’n vinnige toer Italië toe, wag die Haaie op hul tuisveld.

Siya Kolisi en sy vennote in die Haaie-lostrio sal hul spiere moet bult teen Marcell Coetzee en Marco van Staden van die Bulle. Foto: Gallo Images

White sê hulle weet alte goed dit is gevaarlik om by die Haaitenk op te daag met die doelwit om net ’n bonuspunt te kry.

“Ek rig al lank genoeg af om te weet jy kan nie in ’n krieketwedstryd net blok in jou 50 boulbeurte nie.

“Jy gaan nie wen nie, jy móét lopies aanteken.

“Dit gaan opwindend wees, want ons wil vier drieë druk en dit sal ook die Haaie se doelwit wees.

“Ek is seker daarvan as ons vier keer kan druk, sal ons ook naby daaraan wees om die wedstryd te wen.

“Ons het vier drieë teen hulle hier (op Loftus) gedruk, vier teen die Stormers en vyf teen die Leeus en dit is ’n lekker geleentheid vir ons om te kyk of ons daardie momentum kan behou.”

Die Bulle sal dit egter sonder hul kaptein, Duane Vermeulen, moet vermag.

White moes noodgedwonge met Vermeulen en die puik jong flank Elrigh Louw se beserings ’n nuwe en onbeproefde lostrio kies.

Hoe invloedryk die slot Ruan Nortjé langs die kant van die skrum gaan wees, sal gesien moet word.

Marcell Coetzee, wat nou voor draf vir die Bulle, en Marco van Staden kan saam groot skade maak by die afbreekpunte en Siya Kolisi-hulle sal moet moue oprol en inklim in dié afdeling.

Daar is spelers aan albei kante wat ’n punt sal wil bewys nadat hulle nie die Springbok-groep gehaal het nie.

Coetzee is een van hulle en so ook kry die Haaie-losskakel, Curwin Bosch, die kans teen Morné Steyn om te wys die Bok-afrigter, Jacques Nienaber, se oordeel het hom dalk in die steek gelaat.

Spanne:

Haaie: Aphelele Fassi, Anthony Volmink, Lukhanyo Am (k), Marius Louw, Makazole Mapimpi, Curwin Bosch, Jaden Hendrikse, Phepsi Buthelezi, Thembelani Bholi, Siya Kolisi, Hyron Andrews, JJ van der Mescht, Khutha Mchunu, Kerron van Vuuren, Khwezi Mona. PLAASVERVANGERS: Moet nog aangewys word.

Bulle: David Kriel, Madosh Tambwe, Marco Jansen van Vuren, Cornal Hendricks, Stravino Jacobs, Morné Steyn, Ivan van Zyl, Marcell Coetzee (k), Ruan Nortjé, Marco van Staden, Janko Swanepoel, Walt Steenkamp, Mornay Smith, Johan Grobbelaar, Gerhard Steenekamp. PLAASVERVANGERS: Schalk Erasmus, Jacques van Rooyen, Trevor Nyakane, Nizaam Carr, Muller Uys, Keagan Johannes, Clinton Swart, Gio Aplon.

Skeidsregter: AJ Jacobs.

Assistent-skeidsregters: Jaco Peyper, Griffin Colby.

TV-skeidsregter: Stuart Berry.

TV: 18:15 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).

Meer oor:  Haaie  |  Benetton  |  Bulle  |  Reënboogbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.