Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Het vrede skielik in WP neergedaal?

Met dié dat Zelt Marais, president van die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU), en Ronald Bantom, wat eersdaags amptelik die visepresident gaan word, binne dae van mekaar oor die media gemor het, vermoed ek Maandag se unievergadering kan dalk sonder die drama verloop wat aanvanklik verwag is.

Ronald Bantom, aangewese visepresident van die WP-rugbyunie. Foto: Gallo Images

Bantom het vroeër vandeesweek in ’n verklaring gesê dat hy agting vir die unie se besluitnemers het en nie eie belang nastreef nie. Om jouself beskikbaar te stel vir ’n leierspos wat gevul word deur iemand wat na bewering swak presteer, tel nie noodwendig as eie belang nie. Maar tussen die lyne gelees het Bantom nie die aptyt om Marais nou teen te staan nie.

Dinge kan dalk later vanjaar by die WPRU se jaarvergadering verander. Dit kan ’n waterskeiding vir die Kaapse unie wees.

Ongeag wat vorentoe gebeur, glo ek dat Bantom ’n groot rolspeler gaan wees. Baie klubs steun hom en as hy wil, kan hy sonder ongerief die mat onder Marais se voete uitruk.

Sou Bantom vorentoe vir die posisie van president staan, is dit egter moontlik dat ’n ander rolspeler die toneel kan betree om ’n stokkie daar voor te steek. In daardie geval is dit onduidelik hoe die leierstryd hom sal uitspeel.

Nietemin moet daar gehoop word vir sterk en wyse leierskap van Bantom in ’n senior pos by die WP, want dit gaan ’n werklikheid word.

Zelt Marais, president van die WP-rugbyunie. Foto: Gallo Images

Almal besef waarskynlik ook dat ’n mosie van wantroue in ’n president die indruk van onstabiliteit skep en dat die WPRU versigtig moet wees oor die beeld wat na buite uitgedra word.

As ’n reël steur ek my nie eintlik aan aanvalle op die media nie, maar dis belangrik om die punt te maak dat die probleme waardeur die WPRU in die gesig gestaar word, gewis nie deur die media geskep is nie.

Dit is die WPRU wat homself met ’n potensieel verwoestende dispuut met Flyt Property Investment opgesaal het en die media sal sy plig versaak as hy nie daaroor berig nie. Indien die WP homself deur swak bestuur in ’n enorme skuldlas dompel, is dit ’n saak van oorweldigende openbare belang. Die publiek het goeie reg om daarvan te weet en daar was geen onderduimse lekkasie nie.

Dan is daar die kwessie van die voornemende Amerikaanse belegger, MVM Holdings, wat deur die WPRU die koue skouer gegee is. Die WPRU het MVM met agterdog bejeën en dis ook belangrik dat lesers daarvan weet, want dit kan verreikende nagevolge hê. Trouens, dit het die WPRU reeds die dienste van Siya Kolisi gekos nadat MVM in die Haaie belê het.

Aan die ander kant – indien die tyd ons leer dat MVM ’n problematiese belegger by die Haaie is – sal dit ons ook wys dat die WPRU die regte besluit geneem het.

Die feit dat Marais ironies die media as ’n platform gebruik om dinge kwyt te raak waarvoor hy later om verskoning moet vra, is gewis ook nie die media se skuld nie. Hy het kan net homself daarvoor kwalik neem.

Hoe dit ook al sy, my lees van die verdagmakery van die media is dat daar nou ’n poging is om ’n beeld van eenheid in die unie te skets.

Dis mos net die media wat dink daar’s verdeeldheid, of hoe?

Meer oor:  Westelike Provinsie Rugbyunie  |  Ronald Bantom  |  Wpru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.