Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Groot fout met bestuur van rugby in SA'
Dis nie net die spelers van die Kings nie, maar ook afrigters soos Braam van Straaten, wat nou skielik sonder ’n inkomste sit. Foto: Gallo Images

Die kleitrappery rondom die likwidasie van die Southern Kings bewys net weer dat die korporatiewe bestuur in die Suid-Afrikaanse rugbybedryf nie op standaard is nie.

So sê Piet Heymans, die uitvoerende hoof van Sport Employees Unite (SEU), die vakbond wat rugby se nie-spelende personeel verteenwoordig.

“Die aankondiging by die Southern Kings dat hulle op vrywillige likwidasie besluit het, het vir almal as ’n skok gekom,” sê Heymans in ’n verklaring.

“Toe die aankondiging op 25 Augustus gedoen is dat die Kings nie vanjaar in enige plaaslike rugbykompetisies gaan speel nie, is daar geen melding gemaak of was daar geen aanduiding dat die Kings nie sy kontraktuele verpligtinge sou kon nakom nie.”

Volgens Heymans lyk dit egter nou of die Kings se bestuur reeds toe al in ’n desperate finansiële posisie was.

“Volgens ons moes die direksie dadelik met die spelers en beamptes gesels het die oomblik toe hulle geweet het die Kings was in finansiële nood,” sê Heymans.

“Die Maatskappywet maak dit duidelik dat as ’n maatskappy in finansiële nood is, dit verplig kan word om met ’n sakereddingsplan te begin of alternatiewelik om aan die geaffekteerde persone skriftelike kennis te gee waarom daar nie ’n sakereddingsplan in werking gestel gaan word nie.”

Dít, sê Heymans, het nooit gebeur nie. En dit het die SEU van die geleentheid beroof om die kwessie te bespreek en daarvolgens op te tree.

“Daar is baie vrae wat beantwoord moet word en dit sal hopelik gedurende die likwidasieproses gedoen word,” sê Heymans.

“Wat ons lede ontstel, is hoe die hele ding gehanteer is. Om al jou werknemers na ’n vergadering bymekaar te roep en op ’n koue en kliniese wyse aan hulle te vertel dat hulle nie meer ’n werk het nie sonder om enige vorm van hulp of ondersteuning te verskaf, laat ’n suur smaak in almal se mond.”

Volgens Heymans is dit ook nie net die Kings se base wat tekort skiet wat hul korporatiewe bestuur betref nie.

“Dis ons ervaring dat baie rugbyunies nie die riglyne van die King IV-kode volg nie. Korporatiewe bestuur behoort etiese leierskap, houding, gedagtegang en optrede te omhels en die fokus moet op deursigtigheid en deurdagte openbaarmakings wees. Ons sien dit nie in rugby nie!” sê Heymans.

Volgens hom kan Suid-Afrika dalk by die Franse kers opsteek oor hoe om sulke drama soos wat nou by die Kings ervaar word, te systap.

“Daar moet streng kriteria – insluitend finansiële norme waaraan voldoen moet word – wees voordat ’n rugbyunie aan ’n beroepskompetisie mag deelneem,” sê hy.

“Frankryk het so ’n model suksesvol geïmplementeer vir deelname in hul Top14-kompetisie en hulle het nog nie nodig gehad om likwidasies en menslike lyding te hanteer nie!”

Heymans se pleidooi volg ná MyPlayers, die liggaam wat Suid-Afrika se beroepspelers verteenwoordig, Sondag ’n striemende aanval op die swak bestuur van provinsiale unies se sakevleuels gerig het.

Ná die aankondiging van die Kings se vrywillige likwidasie, het Eugene Henning, uitvoerende hoof van MyPlayers, in ’n verklaring gesê die tydsberekening van die likwidasie was “doodeenvoudig koelbloedig”.

“Ons het ’n blik gekry op die menslike impak op spelers wat hul lewensbestaan verloor het weens die wanbestuur van beroepsrugby,” het Henning gesê.

Meer oor:  Altus Momberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.