Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Al die WB-boustene is daar, sê oud-breier
Heyneke: 'Dis Suid-Afrika se tyd'

Heyneke Meyer glo die Springbokke kan die Wêreldbeker wen, en hy sê dit met sy kop en nie net sy hart nie.

Die voormalige breier van die Bokke sê in sy navorsing oor wat vereis word van ’n span om die Wêreldbeker te kan wen, tiek die Bokke al die boksies.

Die Wêreldbeker-toernooi begin Vrydag in Japan, met die gasheerland wat teen Rusland speel. Die Bokke se eerste kragmeting is Saterdag in Jokohama teen Nieu-Seeland.

Meyer, wat by 2015 se Wêreldbekertoernooi die Bok-afrigter was, sê prontuit hy is nie emosioneel as hy sê die Bokke kan die Wêreldbeker wen nie.

“Ek het al baie navorsing gedoen oor wat dit verg om ’n Wêreldbeker te kan wen. Ek dink vir seker dié Springbokke kan dit doen.”

Meyer se mening is grootliks gegrond op die Bokke se ervaring, diepte, kondisionering, verdediging, sterk leierskap, taktiese skerpheid, die bestendigheid van die afgelope tyd en ’n gedugte drietal op agtsteman, skrumskakel en losskakel.

“Ervaring is een van die belangrikste boustene as jy ’n Wêreldbeker wil wen. Spelers soos Handré Pollard, Damian de Allende en Jesse Kriel was tydens die vorige Wêreldbeker op enkelsyfers wat hul hoeveelheid toetse betref. Hulle het in 2015 boonop teen ervare spelers soos Dan Carter, Ma’a Nonu en Conrad Smith gespeel, wat almal meer as 100 toetse gespeel het.

Ek dink nie Nieu-Seeland het meer daardie diepte nie.

“Die plan was altyd om tydens die volgende Wêreldbeker (2019) spelers te hê wat 25, 26 en 27 jaar oud is en min of meer 50 of meer toetse gespeel het.

“Spelers soos Eben Etzebeth, Pollard en Jesse is nou almal daar. Daarom glo ek die Bokke het die nodige ervaring om suksesvol te kan wees.”

Suid-Afrika se diepte maak Meyer ook baie positief. “Ons agttal is van wêreldgehalte, veral ons diepte op slot en stut. Jy gaan beserings kry en dan benodig jy diepte. Ons tiek dié boks.

“Ek dink byvoorbeeld nie Nieu-Seeland het meer daardie diepte nie.”

Wêreldbekers word ook deur ervare skakelpare gewen, ’n afdeling wat volgens die voormalige Bok-afrigter ’n Suid-Afrikaanse sterk punt is.

“Pollard (42 toetse) is ervare en Faf (de Klerk, 25) ook. Faf het goeie ervaring in Engeland opgedoen (al het hy nie in soveel toetse as Pollard gespeel nie).

graf
Bokke se droewige dekade teen die All Blacks.

“Hulle, en Du­ane Vermeulen (49 toetse), ons agtsteman, is almal ervare, wat baie belangrik is.

“Jou losskakel moet een wees wat ’n skepskop in ’n belangrike oomblik kan oorskop. Ek dink Pollard kan dit doen. As jy die Wêreldbeker wil wen, het jy só ’n losskakel nodig wat in die groot oomblikke gedy.”

Meyer reken die Bokke se voorbereiding is uitmuntend. “Ons is baie, baie goed voorberei. Die positiewe energie ná die wen van die Rugbykampioenskap kan ’n groot verskil maak. Ons is vars en goed uitgerus. Kondisionering is ’n belangrike bestanddeel vir Wêreldbeker-sukses.

“Nog iets wat vir my uitstaan en erg bemoedigend is, is die Bokke se bestendigheid (wat hul uitslae betref). Jy moet bestendigheid hê as jy Wêreldbekers wil wen. “Die Bokke het die afgelope tyd gewys hulle kan drie of meer toetse agtereenvolgens wen.

“Dis nie die groepwedstryde wat tel in ’n Wêreldbeker nie, maar jy moet al die uitklopwedstryde op ’n streep kan wen. Dít was altyd Nieu-Seeland se sterk punt.

“Die Bokke se loting is boonop gunstig. Ek dink dit help dat ons in dieselfde groep as Nieu-Seeland is. Ons behoort hulle eers weer in ’n moontlike eindstryd te ontmoet.”

Meyer is ook nie te bekommerd oor die hitte en geweldige humiditeit in Japan nie.

“Japan is neutrale terrein. Suid-Afrika het die voordeel dat ’n groot hoeveelheid van sy spelers al klubrugby in Japan gespeel het. Spelers soos Eben, Franco Mostert, RG Snyman, Jesse, Duane, Damian, Willie le Roux en Pollard ken Japan.

“Ek dink Japan sal vir ons ’n voordeel wees. Ek weet daar is ’n tydverskil, maar die Bokke se beplanning was goed deur vooruit soontoe te gereis het.”

Meyer glo ook dat die Bok-span geen tekort aan leierskap het nie.

“Jy moet ’n paar sterk leiers, minstens vyf, in jou Wêreldbekergroep hê. Die druk is hoog in die Wêreldbeker.

“Dis een van ons beste kanse in jare om die Wêreldbeker te wen. Ek sê dit nie sommer nie. Ek kyk na statistieke en wat dit verg om die toernooi te wen.

“Ons verdediging is byvoorbeeld uitstekend. Verdediging wen bekers. Jacques (Nienaber) doen baie goed met die opskietverdedigingstelsel.

“Ons speel takties baie skerp. Taktiese skerpheid word veral in die uitklopwedstryde benodig. Daar wen die spanne wat takties die beste skop en wie se verdediging die beste is.”

Tog, sê Meyer, speel geluk ook altyd ’n rol. “Of dit beserings is of die spring van die bal, jy het geluk nodig.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.