Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Heyneke gaps Mapoe en Combrinck

Au revoir, Lionel Mapoe.

Die Springbok-buitesenter van die Leeus is saam met Ruan Combrinck op pad na Heyneke Meyer se Franse klubspan Stade Français.

Mapoe het sy werkgewer die afgelope week in kennis gestel van sy voorneme om sy rugby die volgende twee jaar in Parys te speel.

Lionel Mapoe is verlore vir die Leeus.Foto’s: Gallo Images
Ook Ruan Combrinck gaan sy loopbaan in Frankryk voortsit.

Combrinck het reeds vroeër ’n driejaarkontrak met die voormalige Bokafrigter se klubspan gesluit.

Hulle vertrek vorm deel van ’n reuse-uittog by die Leeus én die begin van wat nou ’n volskaalse herbouproses by Ellispark kan word.

Onder die spelers wat saam met Mapoe en Combrinck die pad vat, is Malcolm Marx (Shining Arcs), Carlu Sadie (Westelike Provinsie), Lourens Erasmus (Red Hurricanes), Stephan Lewies (Harlequins), Kwagga Smith (Yamaha Júbilo), Nic Groom (Edinburgh), Harold Vorster (Panasonic Wild Knights), Howard Mnisi (Kings), Sylvian Mahuza (Shining Arcs) en Andries Coetzee (Kintetsu Liners).

Onsekerheid bestaan boonop oor Elton Jantjies se toekoms, aangesien hy nog nie sy kontrak met die Leeus verleng het nie.

Marx en Coetzee sal wel later na die Leeus terugkeer.

Marx sal volgende jaar se Superreeks misloop, maar weer van Junie 2020 vir die Leeus beskikbaar wees.

Aangesien Coetzee se span nie in die Japanse Topliga speel nie, sal hy in volgende jaar se Superreeks vir die Leeus speel.

Sadie is egter ’n hartseersaak.

Hy was as ’n leenspeler in die afgelope Superreeks een van die Leeus se staatmakers. Pogings om ’n oordragfooi met die Westelike Provinsie te beding sodat hy vir die Curriebekerreeks kan aanbly, is volgens Rapport nog nie suksesvol nie.

Mapoe-hulle se vertrek is ’n groot slag vir die diepte van die Leeus, veral omdat Mapoe aan die einde van die Superreeks van sy beste rugby in ’n lang tyd gespeel het.

Die 30-jarige buitesenter se onderhandelinge met die Leeus het lank gesloer, wat die moontlikheid weekliks vergroot het dat hy oorsee sal gaan.

Meyer se belangstelling in hom maak sin. Die voormalige Bokafrigter verloor heelwat van sy Franse toetsspelers tydens die Wêreldbeker en in die Sesnasies-toetsreeks.

Mapoe se besluit om Parys sy tuisstad te maak, is straks makliker gemaak omdat hy nie deel is van Rassie Erasmus se Springbokplanne nie.

Sy sentermaat, die 25-jarige Vorster, gaan na Japan terugkeer waar hy van verlede jaar vir die Panasonic Wild Knights speel.

Hul skuiwe is vanweë onder meer hul ervaring wel ’n terugslag, maar die Leeus sal terselfdertyd opgewonde wees oor wat ’n jong senter soos Wandisile Simelane in die toekoms kan bied.

Die Leeus het nie Rapport se navraag per e-pos oor Mapoe, Vorster en Sadie beantwoord nie.

  • Meyer het die afgelope week gesê hy het Combrinck na Stade Français gelok omdat hy glo daar is nog genoeg skop in dié vleuel se bene om bekers in Frankryk te wen.

“Ek dink werklik Ruan benodig net ’n nuwe uitdaging om weer die beste uit hom te haal,” het Meyer aan Rapport gesê.

“Ek het baie vertroue in Ruan. Die toestande in Frankryk behoort sy spel baie goed te pas. Hy is nog jonk genoeg (29) om bekers te wen.”

Combrinck is veelsydig en kan buitesenter, vleuel en heelagter speel. Hierdie veelsydigheid het ’n groot invloed op Meyer se besluit gehad om die Leeu Parys toe te lok.

“Dit was ook vir my aantreklik dat hy ’n linkerskopvoet het. Ons het iemand in ons agterste driehoek nodig wat kan afrond. Ek beskou Ruan as daardie speler.

“Ek het baie vertroue in hom. Hy is vir my die volledige pakket as ’n speler.

“Ons gaan baie spelers afstaan tydens die Wêreldbekertoernooi. Ruan sal waarde toevoeg.”

Combrinck self sal erken dat sy loopbaan in ’n doodloopstraat beland het in Johannesburg, waar hy sy rugby van 2012 af speel.

Hy word nie meer as ’n eerstekeusespeler beskou nie. Courtnall Skosan, Aphiwe Dyantyi, Tyrone Green en Sylvian Mahuza is die seisoen gereeld ten koste van Combrinck gekies.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.