Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Heyneke het dié oplewing sien kom

Die oplewing in Franse rugby vanjaar is vir hom geensins ’n verrassing nie, sê Heyneke Meyer.

“Ek dink Fabien Galthié (Frankryk se nuwe afrigter) het ’n paar goeie besluite geneem nadat hy oorgeneem het.

Fabien Galthié, die nuwe hoofafrigter van die Hane, wat volgens Heyneke Meyer ’n paar goeie besluite geneem het sedert hy die leisels van Frankryk oorgeneem het. Foto: Getty Images

“Dit was ’n risiko om soveel onervare spelers te kies, maar hy word beloon daarvoor.”

Die Hane is tans eerste op die puntelys van die Sesnasies-reeks nadat hulle reeds tuis met Engeland en Italië en verlede naweek in Cardiff ook met die kampioen, Wallis, afgereken het.

Galthié, wat ná verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi by Jacques Brunel as die Hane se breier oorgeneem het, het die wenkbroue laat lig toe sy aanvanklike Sesnasies-groep gewemel het van jong spelers wat nog nie toetsrugby gespeel het nie.

Dié groep het ’n gemiddelde ouderdom van net 24 jaar.

“Galthié het besluit om die nuwe geslag van Franse rugby te in te span. Dit is met die oog op die volgende Wêreldbeker-toernooi wat in Frankryk (2023) gehou word.

“Frankryk het die laaste twee Wêreldtoernooie vir o.20’s (in 2018 en 2019) gewen en daar is ongelooflike talent wat op die voorgrond tree.

“Hy het selfs van die senior spelers wat nog twee, drie seisoene kon speel, uitgelaat.

“Ek het verwag dat hy sukses sou behaal, maar ek het nie gedink dit sou al vanjaar wees nie,” sê Meyer.

Dié voormalige afrigter van die Springbokke en die Bulle het eerstehandse kennis van Franse rugby.

Hy is aan die einde van verlede jaar uit Parys weg nadat hy en die spelers by Stade Français nie meer langs dieselfde vuur gesit het nie.

Meyer was sedert 2018 dié klub se hoofafrigter.

Hy sê Galthié is ’n slim afrigter, wat baie kennis het van rugby in die Suidelike Halfrond.

“Ek dink hy het boonop die regte ouens om hom. Die aanstelling van Shaun Edwards as verdedigingsafrigter was belangrik, want Franse rugby plaas ’n groter fokus op aanval as verdediging.

“Dit was dus wys om iemand van buite af in te kry.”

Edwards was ’n hulpafrigter met dieselfde portefeulje in Wallis se goue Warren Gatland-jare.

“Vlokkie (Cilliers) sal ook ’n goeie bydrae maak.”

Cilliers, wat in die 90’s saam met Galthié vir die Westelike Provinsie gespeel het, is as ’n skopkonsultant gedurende die Sesnasies-reeks betrek.

Meyer voorspel dit sal interessant wees om te sien of die vooruitgang volhoubaar is.

“Dit is nie maklik om die Franse af te rig nie. Een swak wedstryd en alles kan verander.

“Galthié word nou geprys, maar hy kan môre sukkel om sy span bymekaar te hou. Dit is die realiteit in Franse rugby.”

  • Die Hane se volgens Sesnasies-afspraak is op 8 Maart teen Skotland op Murrayfield.
Meer oor:  Heyneke Meyer  |  Frankryk  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.