Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Heyneke het Griekwas se Scott ‘help brei’

Die voormalige Springbok-afrigter Heyneke Meyer het ’n geweldige groot invloed op die loopbaan van die Griekwas se nuwe breier, Scott Mathie, gehad.

Scott Mathie, Griekwas se nuwe hoofafrigter. Foto: Facebook | Griquas Rugby

Só sê Mathie (36), wat Woensdagaand as die Poubloues se nuwe afrigter aangewys is. Hy is aangestel in die plek van Brent Janse van Rensburg, wat hom by die Haaie aangesluit het.

“Dick Muir (voormalige afrigter van onder meer die Haaie) het ’n groot invloed gehad op hoe ek rugby beskou. Maar dan het ek ongelooflik baie by Heyneke geleer in terme van hoe om spelers te bestuur.

“Dan is ek ook baie dankbaar vir die geleentheid wat Brent my gegee het,” sê Mathie, wat die span die volgende twee jaar gaan brei.

Hy het hom in Maart as agterlynafrigter van die Poubloues in Kimberley aangemeld nadat hy tevore Durban High School se direkteur van rugby was.

In sy speeldae het dié oud-skrumskakel op plaaslike bodem vir die Blou Bulle, waar sy pad met Meyer s’n gekruis het, die Haaie en die Oostelike Provinsie gespeel.

Hy het ook ’n draai in Engeland gemaak, waar hy vir die Sale Sharks en Leeds Carnegie, wat deesdae as Yorkshire Carnegie bekend staan, uitgedraf het.

Mathie sê daar is nie sprake daarvan dat hy die wiel gaan herontwerp by die Poubloues, wat die afgelope seisoen die SuperSport-uitdaagreeks gewen en die halfeindronde van die Curriebeker-reeks gehaal het, nie.

Danksy die Griekwas se goeie vertoning die afgelope seisoen, sal daar hoë verwagtinge van hom gekoester word.

Heyneke Meyer, voormalige afrigter van die Springbokke. Foto: Getty Images

“Ek is baie opgewonde oor die geleentheid, maar dit is belangrik dat ons kontinuïteit verseker. Die spelers het die afgelope seisoen ingekoop in dít wat ons gedoen het.

“Dit gaan belangrik wees dat ons saamwerk aan dit wat werk. Daar mag dalk klein veranderinge hier en daar wees. Maar dit sal nie sin maak om te veel te verander as die span so suksesvol soos in die afgelope seisoen was nie,” sê Mathie.

Arni van Rooyen, uitvoerende hoof van die Griekwaland-Wes-rugbyunie (GWRU), sê in ’n verklaring Mathie se aanstelling sal kontinuïteit by die unie verseker.

“Ons is bevoorreg om iemand in ons stelsel te hê, wat die leisels kan oorneem. Nadat ons in 2019 baie suksesvol ons program herbou het, was dit belangrik om nie die span aan nog ’n herbouproses in 2020 bloot te stel nie,” sê Van Rooyen.

Jannie Louw, president van die GWRU, het by navraag bevestig dat daar nou gesoek word na ’n geskikte kandidaat om die Poubloues se voorspelers af te rig.

Meer oor:  Heyneke Meyer  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.