Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hierjy’s tot helde! Bulle goed op dreef

Van laaste op die Suid-Afrikaanse puntelys in 2018 tot ’n pronkende, bulkende eerste plek in 2019!

Dít is die verhaal van die Bulle se Superrugby-seisoen tot dusver nadat hulle gister op Loftus Vers­feld ’n derde Suid-Afrikaanse Super-span binne vier weke planke toe gestuur het.

Die Bulle vier Rosko Specman se tweede drie kort voor gister se eindfluitjie op Loftus. Foto: DEON RAATH

Dié keer was dit die Haaie wat met 37-14 verfomfaai is.

Ná die droewige jare wat ondersteuners sedert 2010 in die kontrei moes trotseer, is daar vanjaar weer ’n span wat wíl speel.

Dit is nie die feit dát die Bulle weer meer gereeld aan die wenkant is nie, maar hóé hulle dit doen. Dit is veilig om te sê die manne in die Captain America-gewaad is sover die Suid-Afrikaanse pasaangeër.

Nodeloos om te noem dat jy die Superrugby-kroon nie in Maart in jou bekerkas toesluit nie.

Toe die Bulle gisteraand die voet ietwat van die versneller gelig het, het die Haaie hulle gou skrikgemaak deur die voorsprong tot 13 punte te laat krimp.

In die eerste helfte was die Bulle se oorheersing egter so oortuigend dat die Haaie skaars die doellyn in sig gekry het.

Teen rustyd was die Bulle gerieflik 19-0 voor en dit sou 40 minute se uitsonderlike rugby van die Haaie geverg het om terug te kom.

Robert du Preez, die besoekers se afrigter, se praatjie moes besielend gewees het, met die Haaie wat ná rustyd met veel meer onderneming teruggekeer het. Skaars ’n minuut die tweede helfte in het Jeremy Ward, die Haaie se binnesenter, gaan druk nadat hulle vir ’n aanvallende lynstaan op die Bulle se doellyn aangetree het.

Die Bulle het onmiddellik die saak reggestel toe Rosko Specman ná indrukwekkende voetwerk van Warrick Gelant in die hoek oor is. Daar was nog geleenthede vir die besoekers om punte aan te teken, maar die Bulle het enduit met maestro Han­dré Pollard in beheer, die Haaie se nommer gehad.

Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, kry seker meer moed vir die jaar wat voorlê as hy die Bulle-kaptein se peil gade slaan. Nog nooit voorheen het Pollard, wat ’n 50ste keer vir die Bulle in die kompetisie op sy pos was, só dikteer en beheer geneem soos die afgelope paar weke nie.

Dit is Pollard se sesde jaar op dié vlak, maar ’n mens vergeet soms dat daar Maandag net 25 kersies op sy verjaardagkoek gaan wees.

Sy bydrae was uiteindelik 22 punte, maar dit is sy besluitneming en taktiese uitnemendheid wat hom in die stadium bo ander nr. 10’s in Suid-Afrikaanse rugby laat uitstaan.

Jesse Kriel is ’n ander Springbok in die Bulle-agterlyn wat ooglopend wasdom bereik het. Hy het sy tweestryd met Luk­hanyo Am loshande gewen, hoewel daar in die geheel meer kanse vir hom op die aanval was.

Langs Kriel wys die Blitsbok Dylan Sage dat hy net so propvol rugby is.

Voorlangs was daar kommer oor die Bulle wat in die lynstane sonder Lood de Jager en Eli Snyman oor die weg moes kom, maar daar is net een keer besit in dié afdeling verloor.

Gee gerus ook vir Pine Pienaar, die wenspan se verdedigingsafrigter, ’n klop op die skouer. Pienaar het al onder hope kritiek deurgeloop en is op aandrang van Pote Human teruggelok Loftus toe. Daar is duidelik ’n beter balans tussen aanval en verdediging onder die Bulle.

Human en sy breintrust het nou kans om ’n paar seer lywe te laat rus, met die Bulle wat volgende naweek ’n loslootjie het.

En menige Bulle-ondersteuner sal intussen wonder hoe ver dié span vanjaar kan vorder in die kompetisie.

Meer oor:  Loftus Vers­Feld  |  Haaie  |  Bulle  |  Superrugby-Seisoen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.