Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Highlanders looi Aussies se kampioen

Die kloof in gehalte tussen rugby in Nieu-Seeland en dié in Australië was Vrydag nogmaals duidelik in die eerste wedstryd van die nuwe Trans-Tasmaanse reeks tussen dié lande.

Australië se pas gekroonde kampioen, die Reds, is Vrydag deur een van Nieu-Seeland se wisselvalliger spanne, die Highlanders, ore aangesit.

Die Highlanders het Vrydag die hoogste gevlieg in hul wedstryd teen die Reds in Dunedin. Billy Harmon van die Highlanders kry hier die bal in die hande voor Filipo Daugunu van die Reds. Foto: Getty Images

Die Highlanders was in die Forsyth Barr-stadion in Dunedin met 40-19 baas nadat hulle teen rustyd al met 21-7 voorgeloop het.

Daar moet egter in gedagte gehou word dat die Reds verlede naweek nog in ’n taai eindstryd van die Australiese Super-reeks teen die Brumbies betrokke was.

Die Aussie-span was ook sonder verskeie eerstekeuse-spelers wat beseer is of wat ’n blaaskans gekry het.

Die Highlanders, wat ook sonder ’n paar beseerde sterre was, kan heel tevrede wees met hul vertoning.

Hul een senter, Scott Gregory, het sy span se eerste drie reeds in die eerste minuut gedruk nadat die besoekers se 19-jarige skrumskakel, Kalani Thomas, die bal in een van sy eie spelers vasgeskop het.

Enkele minute later het Thomas vir sy blaps vergoed toe hy ná ’n vasberade aanval van die Reds vir ’n drie oorgeduik het.

Daar was min deurkomkans vir die Reds teen die Highlanders. Hierdie keer was dit Seru Uru wat vasgevat is. Foto: Getty Images

Die res van die wedstryd het egter grootliks aan die tuisspan, wat baie gebiedsvoordeel geniet het, behoort.

Onder die wenspan se uitblinkers het hul haastige linkervleuel, Jona Nareki, skrumskakel, Aaron Smith, en flank Billy Harmon getel.

Smith, wat die Highlanders saam met Ash Dixon lei, het gesê hy en sy span het vars gevoel ná ’n blaaskans van twee weke.

“Dit was ’n goeie begin vir die reeks, maar nou moet ons daarop voortbou,” het hy gesê.

Volgens Liam Wright, die Reds se kaptein, was dit vir hulle ’n “frustrerende” stryd.

“Ons het kanse gehad, maar dinge wou nie vir ons uitwerk nie,” het hy gesê.

Puntemakers:

Highlanders 40 (21): Drieë: Scott Gregory, Ash Dixon (2), Sio Tomkinson, Liam Coltman, Ngatugane Punivai. Doelskoppe: Mitch Hunt (5).

Reds: 19 (7): Drieë: Kalani Thomas, Suliasi Vunivalo (2). Doelskoppe: James O’Connor (1), Bryce Hegarty (1).

Meer oor:  Highlanders  |  Reds  |  Trans-Tasmaanse Superreeks  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.