Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hokaai, sê Dawie oor Nuweland
Die ikoniese Nuweland-stadion se voorland is eiendomsontwikkeling. Foto: Gallo Images

Verbeel jou wat ’n eiendomsontwikkeling op Coetzenburg aan Stellenbosch se karakter sal doen. Dán kry jy ’n prentjie van só ’n projek waar die Nuweland-rugbystadion tans staan.

Só meen Dawie Snyman, wat die Westelike Provinsie afgerig het toe die Streeptruie van 1982 tot 1986 die Curriebeker vyf keer agtereenvolgens gewen het.

“My vraag is waar rugby vir die volgende 100 jaar in die Wes-Kaap gespeel gaan word as jy daardie geriewe deur ’n eiendomsontwikkeling vervang. Dis die hart en siel wat prysgegee word,” het Snyman aan Netwerk24 gesê.

“As jy van New York praat, praat jy outomaties van Central Park. As jy van Rondebosch praat, praat jy van die Rondebosch-meent. As jy van Londen praat, praat jy van Kensington Gardens.

As jy van New York praat, praat jy outomaties van Central Park. As jy van Rondebosch praat, praat jy van die Rondebosch-meent. As jy van Londen praat, praat jy van Kensington Gardens.
Dawie Snyman

“Waarom is daar nog nie ’n eiendomsontwikkeling op die Rondebosch-meent nie? Mense met ’n visie van 100 jaar het daardie plekke geskep en bewaar.”

Om dieselfde rede, meen Snyman, dink die Universiteit Stellenbosch waarskynlik nie eens aan ’n eiendomsontwikkeling waar Coetzenburg geleë is nie.

“Wat is jou prentjie van Stellenbosch sonder Coetzenburg? Wat is die prentjie van elke student wat op Stellenbosch studeer sonder Coetzenburg? Daar was twee legendes wat dit vir ons gevestig het: Oubaas Markötter en Danie Craven.”

Dawie Snyman, onder wie se afrigting die Westelike Provinsie die Curriebeker vyf keer agtereenvolgens van 1982 tot 1986 verower het, is nie in sy noppies oor ’n plan vir ’n eiendomsontwikkeling waar die Nuweland-stadion tans staan nie. Foto: Gallo Images

Snyman se kommentaar volg op die klubs van die Westelike Provinsie se goedkeuring Dinsdagaand van ’n transaksie met Flyt Property Investment. Die WP Rugbyunie (WPRU) gaan gelyke vennote wees in ontwikkelings wat op Nuweland en Brookside oorweeg word.

Hy gaan ook verbande teen eiendomme ter waarde van R250 miljoen registreer as sekuriteit vir ’n lening van R112 miljoen by die maatskappy Dream World Investments 401, wat deel van Flyt is.

Daarmee sal die WPRU vir die afsienbare toekoms finansieel kan asem skep, hoewel die moontlike nagevolge van dié transaksies by baie kenners en oudspelers diep kommer wek.

Volgens Snyman het hy begrip vir die finansiële verknorsing waarin die WPRU hom tans bevind en dat dit ’n oorvereenvoudiging sal wees om die skuld op die huidige bestuur onder Zelt Marais se leiding te pak.

“Dit is ’n kommersiële bestuursprobleem, wat oor 25 jaar strek. As jy meer geld uitgee as wat jy inkry, is dít waar jy eindig. Ek verstaan die finansiële knyptang, maar daar móét ’n ander manier wees.

“As jy vir my sê Groenpunt (waar die Kaapstad-stadion, van volgende jaar af die Stormers en WP se nuwe tuisveld, geleë is) is die hart en siel van rugby in die WP, dan sê ek vir jou dis nie in my kop so nie. Ons speel van 1883 af op Nuweland en van 1928 af op Coetzenburg.”

Volgens hom sal dit ’n “donker prentjie” skets van rugby se etos in die beroepsera as besluite uitsluitlik daarop gegrond word om geld te maak.

Die vervaging van daardie konsep het begin toe daar opgehou is om klubrugby op Nuweland te speel.
Dawie Snyman

“My vraag bly waar gaan hulle oor 100 jaar speel? Die Stormers- en WP-spanne is nie rugby in die Wes-Kaap nie. Dok Craven het gepraat van die ‘Home Guard’, wat die klubs is. Die vervaging van daardie konsep het begin toe daar opgehou is om klubrugby op Nuweland te speel.

“Om op Nuweland te speel was ’n emosionele ervaring wat ’n klubspeler vir die res van sy lewe sou bybly en koester. Dit is iets waarna ’n klubspeler sy hele loopbaan uitgesien het,” het hy gesê.

Meer oor:  Zelt Marais  |  Dawie Snyman  |  Kaapstad  |  Groenpunt  |  New York  |  Nuweland  |  Eiendomsontwikkeling  |  Rugby  |  Streeptruie  |  Wpru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.