Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die Stormers is steeds onoorwonne

Om die enigste onoorwonne span in Superrugby te wees, is nogal ’n pluimpie vir die Stormers. So ook hul voorsprong met drie punte bo-aan die gesamentlike puntelys. En sekerlik nog meer om oor te pronk, is dat die eerste drie vanjaar teen hulle op hul tuisveld eers ná 226 minute se spel gedruk is.

“Een drie op Nuweland (in drie wedstryde) is nie die einde van die wêreld nie,” het John Dobson, afrigter van die Stormers, gisteraand gesê ná sy span se oorwinning van 17-7 oor die Jaguares op Nuweland.

Herschel Jantjies duik oor vir sy drie teen die Jaguares in Kaapstad. Foto: Gallo Images


In die konteks van die Suid-Afrikaanse spanne is dit ’n belangrike oorwinning vir die Kapenaars, want dit plaas hulle vyf punte voor die Haaie wat met 12 punte tweede in die SA groep is.

“Norman (Laker, die Stormers se verdedigingsafrigter) blameer wel vir Ali (Vermaak, Stormers-loskopstut) vir daai drie wat ons afgestaan het,” het Dobson skertsend gesê.

“Die dinge wat ons beter wou doen as verlede week teen die Leeus, het ons beter gedoen. Dit was frustrerend dat ons teen rustyd slegs met 3-0 voor was, maar hopelik is ons op die regte pad wat wenmomentum betref.

“Sonder om arrogant te klink, ons het verdien om te wen. Die Jaguares het gekom vir ons, veral by die afbreekpunte.”

Nuweland is inspirerend en ek hoop die stadion leef voort.

Steven Kitshoff, kaptein van die Stormers, sê dit was teleurstellend dat hulle daardie drie afgestaan het, veral by ’n skrum nadat hulle so oorheersend in dié afdeling was. “Dis ’n bitter pil om te sluk,” sê hy.

“Ons het hulle onder skoot gehad in die eerste helfte en verskeie strafskoppe gekry. Ons het konsentrasie verloor met 15 minute oor en hulle kon ’n goeie drie van die skrum af druk. Om konsekwent goed te skrum, is iets waarna ons moet streef. Ek is steeds trots op die ouens.”

Dobson het wel gesê hulle kon meer geduld op die aanval getoon het.

Vat die losskakel, Damian Willemse, se poging om uit sy halfgebied te hardloop met min ondersteuning rondom hom. Hy is met balbesit betrap wat tot ’n strafskop aan die besoekers gelei het.

Ditto Dillyn Leyds se vinnige tikskoppie vanaf ’n strafskop met die Jaguares op die agtervoet, met die bal wat hy toe aanslaan.

Ek wou die spelers laat verstaan watter eer dit is om hier te speel en die beste ding wat ons kon doen, is om dit ons alles te gee. Ons is steeds trots op die vertoning. Ons sou net nog trotser gewees het as ons kon wen.
Gonzalo Quesada, afrigter van die Jaguares.

Dis enkele voorbeelde waar die Stormers versuim het om die geduld te wys waarmee hulle verlede Saterdag teen die Leeus die knoop deurgehaak het.

“Ons kan verbeter wat ons geduld betref het,” sê Dobson.

“Maar ons praat oor ’n wedstryd wat ons gewen het en dat ons ná vier rondes die enigste onoorwonne span in die kompetisie is. Maar dit is so dat ons nog nie volgens ons potensiaal speel nie. Vandag was ’n stap in die regte rigting.

“In een stadium (toe Willemse gestraf is) het ons ’n bietjie soos kavaliers gespeel op soek na daardie bonuspunt.

“Maar toe hulle gaan druk, moes ons weer begin verdedigend speel.”

Dobson het ook net sy kop geskud oor Frans Malherbe, die vaskopstut, se geelkaart.

“Ons het dit goed verwerk, maar dis beslis iets waarna ons sal kyk,” het Dobson geantwoord toe hy uitgevra is of hulle gaan appelleer teen die geelkaart.

Die Stormers gaan ook nie nou al enige van hul spelers laat rus nie, met ’n tweestryd teen die Blues wat Saterdag wag.

“As ons vyf uit vyf kan wen, sal ons in ’n goeie posisie wees.”

Gonzalo Quesada, afrigter van die Jaguares, sê dié wedstryd was belangrik vir sy span.

“Ons het heelweek oor die wedstryd gesels en dat dit dalk die laaste keer kan wees dat ’n Argentynse span hier speel. Ja, dit was ’n bietjie emosioneel vir my, maar dalk word ek maar net oud,” sê hy.

“Ek wou die spelers laat verstaan watter eer dit is om hier te speel en die beste ding wat ons kon doen, is om dit ons alles te gee. Ons is steeds trots op die vertoning. Ons sou net nog trotser gewees het as ons kon wen.

“Nuweland is ’n inspirerende stadion, en dis my beskeie mening dat ek maar net bly hoop die stadion leef voort.”

* Punte:

Stormers 17: Drieë: Herschel Jantjies, Ruhan Nel. Doelskoppe: Damian Willemse (2). Strafdoel: Willemse

Jaguares 7: Drie: Rodrigo Bruni. Doelskop: Domingo Miotti.

Meer oor:  Stormers  |  Jaguares  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.