Die Springbok-loskopstut Steven Kitshoff draf Saterdag in Kimberley vir die 100ste keer in ’n Stormers-trui op die veld wanneer die Kapenaars vir Griekwas in ’n Superrugby Unlocked-wedstryd in Kimberley pak.

Steven Kitshoff speel Saterdag sy 100ste wedstryd vir die Stormers teen Griekwas in Kimberley. Foto: Gallo Images
Kitshoff voer die span ook weer in die afwesigheid van Siya Kolisi aan. Sy buiging vir die Stormers was teen die Chiefs in Hamilton in 2011.
Daar is baie veranderings aan die span wat verlede naweek op Loftus Versfeld in Pretoria met 39-6 deur die Bulle verneder is.
Voorlangs vervang David Meihuizen vir Salmaan Moerat op slot, Neethling Fouché vir Frans Malherbe op vaskopstut en Marcel Theunissen vir Jaco Coetzee op flank.
In die agterlyn is dit Paul de Wet vir Herschel Jantjies op skrumskakel en Angelo Davids vir Leolin Zas op linkervleuel.
Jantjies is weens familieverpligtinge met verlof.
• Stormers: Warrick Gelant, Edwill van der Merwe, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Angelo Davids, Damian Willemse, Paul de Wet, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Marcel Theunissen, JD Schickerling, David Meihuizen, Neethling Fouché, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS (uit): Scarra Ntubeni, Kwenzo Blose, Frans Malherbe, Sazi Sandi, Salmaan Moerat, Chris van Zyl, Ben-Jason Dixon, Godlen Masimla, Tim Swiel, Michal Hazner, Ruhan Nel.