Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hoop vlam op oor VS-ster Ruan Pienaar
Cornal Hendricks
Cornal Hendricks van die Bulle probeer Vrydagaand vir Andisa Ntsila van die Cheetahs plattrek in hul Superrugby-wedstryd. Foto’s: Gallo

Junior Pokomela sal die Cheetahs se kapteinskap oorneem terwyl Ruan Pienaar van ’n kniebesering herstel.

Hoop bestaan egter in die Cheetah-kamp dat Pienaar nie lank in die siekeboeg sal wees nie. ’n Operasie word hopelik nie eens benodig nie nadat hy sy mediale ligamente en knieskyf in Vrydagaand se Superrugby Unlocked-oorwinning van 19-17 oor die Bulle in Bloemfontein beseer het.

’n Skandering wat die 36-jarige Pienaar gisteroggend ondergaan het, het aangedui dat sy besering nie so ernstig is as wat aanvanklik gevrees is nie. Die besering was die gevolg van ’n duikslag in die 15de minuut deur die Bok-flank Marco van Staden.

Die Bok-skrumskakel besoek môreoggend om 09:00 die Bloemfonteinse ortopeed dr. Johan Kruger. Die Cheetahs hoop ná gister se skandering dat Pienaar vanjaar weer sal kan speel.

In sy afwesigheid sal die 23-jarige Pokomela die Cheetahs lei. Dié oudleerling van Grey PE het die kapteinskap reeds Vrydagaand teen die Bulle oorgeneem nadat Pienaar die speelveld met ’n gholfkarretjie verlaat het.

Pokomela speel al van 2017 vir die Cheetahs. Hy word as ’n gewilde en sterk leier beskou.

Die Cheetahs se diepte op skrumskakel sal met Pienaar se besering behoorlik getoets word. Tian Meyer en Ruben de Haas is die enigste ander gekontrakteerde skrumskakels in die Cheetahs se groep.

Die Cheetahs het wel planne gehad om binnekort speelkans aan De Haas, wat die VSA in verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan verteenwoordig het, te gee.

“Beserings is ongelukkig deel van die spel, maar dit was sleg om te sien dat hy (Pienaar) en Gio Aplon (kniebesering) so vroeg in die wedstryd met die mediese gholfkar van die veld gehelp is,” het Hawies Fourie, afrigter van die Cheetahs, gesê.

“Ons dink aan hulle en dat dit nie té ernstig is nie, maar dit bly ’n terugslag.”

Fourie is ingenome met hoe sy span ná sy kaptein se besering kopgehou het.

“Die hele span het goed gereageer en koelkop gebly. Tian het daardie volgende 65 minute goed gevaar en Junior het goeie besluite geneem.

“Dit was ’n ongelooflike vertoning as ’n mens dink aan al die negatiewe goed wat met ons gebeur het – al die slegte nuus wat ons as ’n span gekry het die laaste twee tot drie weke.

“Ek is baie, baie trots op my span,” het Fourie bygevoeg.

Ruan Pienaar ná die wedstryd.

Ná die wen gons dit op sosiale media of SA Rugby die regte besluit geneem het om die Cheetahs uit die Pro16 te gooi.

Die Vrystaters speel van die aanskoulikste hardlooprugby deur enige Suid-Afrikaanse span. Net soos teen die Pumas, het die Cheetahs ook weer Vrydagaand teen die Bulle die meeste speelwerk in die eerste helfte gedoen.

Uiteindelik moes die tuisspan tot in die laaste sekondes, ná ’n dapper terugvegpoging deur Jake White se span, walgooi om die oorwinning te behaal.

Min het die spanne eindelik onderskei behalwe ’n pragdrie deur die Cheetah-vleuel Rosko Specman.

Die Bulle sou ook kennis neem van die Cheetah-agtsteman, Jasper Wiese (Speler van die Wedstryd), se kragvertoning. Al die ander spanne in die reeks sal verheug wees dat hy aan die einde van die maand na Engeland vertrek waar hy vir Leicester Tigers sal speel.

White, afrigter van die Bulle, het agterna vir sy plaasvervanger-losskakel Chris Smith geskerm ná Smith nie met ’n gelykmakende doelskop kon slaag nie.

“ ’n Ou soos Chris Smith, hy het die doelskop gemis en ons kan hom nie daaroor uitwys nie. Hy sal weer in so ’n situasie moet wees. Hy sal moet groei daarin,” het White gesê.

Hy het voorts gesê Vrydagaand se vertoning kan byvoorbeeld nie met verlede week s’n teen Griekwas vergelyk word nie. Hy was wel tevrede met sy span se terugvegpoging nadat hulle rustyd met 3-13 agter was.

“Ek dink daar was positiewes in albei wedstryde en daar is uiteraard baie dinge waaraan ons sal moet werk.”

White maak geen geheim daarvan dat Bloemfontein ’n moeilike plek vir die besoekende span is nie. “Kom ons wees eerlik, die Vrystaat het ’n helse rekord op sy tuisveld. Ek het die Haaie destyds (toe hy hul afrigter was) gebring met baie Springbokke en hier verloor. Hulle gaan dit tuis ook vir ander spanne moeilik maak. Op die ou end was dit een doelskop, hy gaan oor en ons is gelykop,” sê White.

“Dis vir my ’n aanduiding, daar is iets om aan te werk en as ons weer so ’n geleentheid kry, moet ons dit kan deurtrek.”

  • Cheetahs (19) Drie: Rosko Specman Doelskop: Tiaan Schoeman Strafdoele: Schoeman (4) Bulle (17) Drie: Joe van Zyl Strafdoele: Morné Steyn (3), Chris Smith
Meer oor:  Ruan Pienaar  |  Kniebesering  |  Cheetahs  |  Bulle  |  Junior Pokomela  |  Kapteinskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.