Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Horne brei nou sewesspelers in Eikestad
Die voormalige Blitsbok Frankie Horne langs die oefenveld in Stellenbosch. Foto: Eunice Visagie

“Daar is niks lekkerder as om te sien hoe ’n speler nie net op die veld verbeter nie, maar ook meer opgewasse vir die aanslae van die lewe raak.”

So het die hoofafrigter van die Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS) se sewes-rugbyprogram en voormalige internasionale sewesspeler, Frankie Horne, gesê.

Sedert die 37-jarige Horne opgehou speel het, is hy grotendeels by afrigting betrokke. “Ek het dadelik met konsultasiewerk begin toe ek uitgetree het en toe was daar die Tiger Rugby-program en die afgelope twee jaar is ek by SAS Rugby,” het Horne gesê.

Daar is niks beter as om ’n speler op een plek te kry en dan op ’n beter plek te laat nie.
Frankie Horne

’n Groep van 20 spelers van lande oor die wêreld heen het in Januarie na SAS gekom om deel van vanjaar se program te wees.

“Hoewel Covid-19 vanjaar se program tot stilstand geruk het, meen ek dat dit wat ons tot dusver bereik het, ’n groot sukses is. ’n Paar van die spelers in die groep is reeds deur die bestuur van die Blitsbokke se sewesakademie raakgesien.”

Horne het die laaste paar jaar ook ’n goeie verhouding met die Duitse rugbyunie opgebou. Verskeie spelers in die groep van 2019 en vanjaar is van Duitsland afkomstig. In die huidige groep is daar ook spelers van Zimbabwe en Israel.

Frankie Horne was in sy speeldae lank ’n uitblinker vir die Blitsbokke. Foto: Gallo Images

“Afrigting is my passie. Daar is niks beter as om ’n speler op een plek te kry en dan op ’n beter plek te laat nie. Dit is beslis die beste deel van afrigting,” het hy gesê.

“Die vernaamste uitdaging is om individuele aandag aan spelers te gee. Dit verg tyd om ’n speler te leer ken. En soms het wat hulle benodig nie enigiets met rugby te doen nie.

“Van die jongelinge het leiding en dalk ook rigting nodig en dit is wonderlik om ook daarmee te help. Dis uitdagend, maar uiters lonend.”

Vir Horne is die vernaamste doel van die sewesprogram om die spelers wat tot dusver dalk oor die hoof gesien is, nog ’n kans te gee.

“Die program wys hulle wat dit verg om ’n internasionale sewesspeler te wees. Vir sommiges is die vaardighede wat hulle hier leer, die beslissende hupstoot wat hulle nodig het.”

Horne het in 68 agtereenvolgende sewestoernooie vir Suid-Afrika gespeel. Hy het einde 2016 uitgetree.

Meer oor:  Sewes  |  Frankie Horne  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.