Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Totale aanslag teen Suid-Afrika se WB-poging
Hou, bod, hou!

Die byle gaan nog huil voordat Wêreldrugby Woensdag bekend maak of Suid-Afrika in 2023 die Wêreldbekertoernooi gaan aanbied.

Wêreldrugby was die week blitsig uit die blokke om beweringe van bodvuilspel te weerlê nadat Suid-Afrika as voorkeurkandidaat aangewys is.

Die FNB-stadion in Johannesburg. Indien Suid-Afrika in 2023 die Wêreldbeker-rugbytoernooi aanbied, sal onder meer die openingswedstryd en die eindstryd hier gespeel word. Foto: felix dlangamandla

In rugbykringe in Ierland en Frankryk het die vonke sedertdien gespat, met albei lande wat met beweringe en aansprake desperaat probeer om die stemmery in hul guns te beïnvloed. Sowel Ierland as Frankryk is saam met Suid-Afrika kandidaatlande om die Wêreldbeker in 2023 aan te bied.

Die vet is behoorlik in die vuur nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie die guns van die meeste kundiges gewen het om 2023 se toernooi aan te bied.

Wêreldrugby se lidlande sal met die uitsondering van Suid-Afrika, Ierland en Frankryk Woensdag stem. Die wenner sal 20 uit 39 stemme moet kry.

Beweringe van ’n gekonkel en geheime ontmoetings om Suid-Afrika as voorkeurkandidaat in Woensdag se stemmery te laat sneuwel, is volop.

’n “Geheime vergadering” is glo vir vandag tussen verteenwoordigers van Skotland, Wallis, Engeland en Ierland in Londen beplan.

Dié gerugte kon egter nie bevestig word nie.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het by navraag verkies om Wêreldrugby se proses te eerbiedig deur niks oor Woensdag se stemmery te sê nie.

Wêreldrugby se geloofwaardigheid sal beslis ’n yslike knou kry as Suid-Afrika nie Woensdag rondom 15:00 as sy voorkeurkandidaat as die gasheerland aangewys word nie.

Saru het volle vertroue dat Wêreldrugby nie onder die druk sal swig nie ná onlangse aanvalle deur Ierland en Frankryk op Suid-Afrika se bod.

Suid-Afrika (78,97%) is vroeër ná ’n onafhanklike ouditproses as voorkeurkandidaat aangewys, met Frankryk (75,88%) in die tweede plek en Ierland (72,25%) derde.

Die Franse en Iere was vinnig om foute in Suid-Afrika se bod uit te wys, terwyl daar vrae was oor Ierland se stadions én Frank­ryk se waarborg en sokkervelde wat tydens die toernooi gedeel moet word.

Netwerk24 berig talle van Frankryk se velde het dimensies van 95 m x 68 m, terwyl die dimensies van ’n internasionale veld so naby as moontlik aan die maksimum van 100 m x 70 m moet wees.

Slegs twee van Ierland se sta­dions is volgens dié webtuiste tans gereed om gebruik te word, met ander wat ná die nodige goedkeuring gebou moet word.

Land moet dié week 20 van 39 stemme kry

Philip Browne, hoof van die Ierse Rugbyunie, het in ’n onderhoud met AFP in Dublin gesê die verslag met die voorkeurkandidaat het nie Ierland se kanse gesink nie. “Ons is wel in die steek gelaat. Daar is geen twyfel daaroor nie,” het hy gesê.

Browne, wat ook vroeër die week in ’n brief aan Brett Gosper, uitvoerende hoof van Wêreldrugby, oor sy klagtes geskryf het, het gesê daar is ’n fyn lyn om te kla of om regverdige kwellings te hê.

Volgens hom word die Ierse woede nie op Suid-Afrika gerig nie, maar op die verslag. Hy noem byvoorbeeld sy Suid-Afrikaanse eweknie, Jurie Roux, een van rugby se “here”.

Browne erken die verslag het hom baie verbaas en teleurgesteld gelaat. Hy het dit ook duidelik gestel dat Ierland se visie oor hoe ’n Wêreldbekertoernooi aangebied moet word, hemelbreed verskil van dié van Wêreldrugby.

“ ’n Wêreldbekertoernooi in Ierland sal ’n bepaalde Wêreldbeker wees, iets wat aanhangers regoor die wêreld sou geniet,” het Browne gesê. “Maar dit was blykbaar nie deel van die algehele visie wat Wêreldrugby daarvoor gehad het nie.”

Wêreldrugby se geloofwaardigheid sal beslis ’n yslike knou kry as Suid-Afrika nie Woensdag rondom 15:00 as sy voorkeurkandidaat as die gasheerland aangewys word nie.

Meer oor:  Wêreldbekertoernooi  |  2023  |  Wêreldrugby  |  Bod  |  Stemmery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.