Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hou dié tweestryde in Albany-toets dop

Dis gewoonlik die onsigbare millimeters wat die skaal in ’n rugbytoets in die guns van die oorwinnaars laat oorslaan.

Die halwe sekonde wat ’n bal by die losskrum vertraag word, die ekstra paar sentimeters wat ’n ranker in die lynstaan spring om die bal by die teenstanders te gaps of die ekstra tree wat by ’n skrum gewen word, kan alles deurslaggewend wees om ’n sege te verseker.

Hierdie boublokkies van oorheersing het gewoonlik hul oorsprong in die talle tweestryde wat in ’n toets op die veld ontstaan.

Wanneer die Springbokke Saterdag Nieu-Seeland die stryd in Albany aansê, sal hierdie waarskynlik die beslissende tweestryde wees:

Eben Etzebeth se kraglopies gaan belangrik vir die Springbokke teen die All Blacks wees.Foto: Getty Images

1. Eben Etzebeth t. Brodie Retallick

Afhangende van waar ’n mens se lojaliteite lê, kan óf Etzebeth óf Retallick beskou word as die wêreld se beste slot. En albei het vanjaar gewys waarom hulle so hoog geag word en om die beurt as die wêreld se beste in dié posisie beskou word.

Albei was tot dusver uitmuntend en daar is statisties bitter min tussen die twee te kies. Etzebeth was ook ’n openbaring as Springbokkaptein, wat hom waarskynlik tot nog groter hoogtes aanspoor.

Wie die stryd tussen die twee dinamiese spelers in die lynstaan, as stormram, op die verdediging, by die afbreekpunte en selfs met slim verspreiding in die kontak wen, sal waarskynlik help om sy span as wenner uit die stryd te laat tree.

Liam Squire en Jean-Luc du Preez gaan Saterdag baklei vir oorheersing van die voordeellyn. Foto: Getty Images

2. Jean-Luc du Preez t. Liam Squire

Wêreldrugby se twee nuutste uitsmyters gaan Saterdag koppe stamp, en wat ’n gelaaide tweestryd beloof dit nie om te wees nie.

Du Preez (1,94 m en 114 kg) en Squire (1,96 m en 113 kg) is albei merkwaardige atlete wat goed teen mekaar opweeg. Albei is ook nuut op die toetstoneel en sal graag teen die “ou vyand” hul stempel wil afdruk.

Die twee bielies se hooftaak sal wees om momentum op die aanval as stormram te bewerkstellig en om die teenstanders se momentum met kragtige duikslae te stuit. Du Preez is egter met ekstra verantwoordelikheid by die afbreekpunte opgesaal en dis dalk hier waar hy bo Squire kan uittroon, ofskoon Squire Saterdag moontlik gevaarliker met die bal onder die arm in die wyer kanale kan wees.

Jan Serfontein se organisatoriese vermoëns sal Saterdag teen Nieu-Seeland deurslaggewend wees. Foto: Getty Images

3. Die middelveld is ’n oorlogsone

Die belangrikheid van gevestigde kombinasies in ’n toetsspan gaan Saterdag ten toon gestel word wanneer Jan Serfontein en Jesse Kriel die magtige All Black-senterpaar, Sonny Bill Williams en Ryan Crotty, takel.

Serfontein en Crotty se organisatoriese vaardighede op die verdediging sal tydens die veldslag bepalend wees, terwyl Williams en Kriel met blink hardlooplyne en knap verspreiding indruk sal probeer maak.

Serfontein, wat reeds 35 duikslae uitgevoer en knap versprei het, word waarskynlik nie genoeg vir sy bydrae in die Springbokke se ommeswaai geëer nie en hy sal Saterdag weer die spil wees waarom die Bokke se verdediging agterlangs draai. Hy sal Williams, sy regstreekse teenstander, ook fyn moet dophou.

Kriel, daarenteen, sal die vuurwerk met beperkte geleenthede moet verskaf indien die Bokke die Blacks wil uitoorlê.

Rugbykampioenskap-uitslae

Rugbykampioenskap-puntelys

Rugbykampioenskap-bepalings

Meer oor:  Eben Etzebeth  |  Jan Serfontein  |  Jean-Luc Du Preez  |  Nieu-Seeland  |  Albany  |  Springbokke  |  Rugby  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.