Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hou teen kop hou Marcell uit Bok-kamp

Dit is steeds ’n ope vraag of die hou teen die kop wat die flank Marcell Coetzee Saterdag ná net ’n kwartier van die Springbokke se toets teen Argentinië van die veld gedwing het, die doodsklok gelui het vir sy Wêreldbeker-droom.

Coetzee het nie Sondag saamgereis na Bloemfontein vir die belyningskamp wat die Bok-afrigters vandeesweek met die spelers sal hê nie.

Saru het aangekondig dat 36 spelers in Bloemfontein aangekom het vir dié kamp, eerder as die 37 wat vooraf beplan was.

PRETORIA, SOUTH AFRICA - AUGUST 17: Marcell Coetze
Marcell Coetzee. Foto: Gallo Images

Die afwesige stukkie van dié spesifieke legkaart is Coetzee, wat Saterdag in die onoortuigende oorwinning van 24-18 op Loftus Versfeld van die veld is om vir harsingskudding getoets te word. Hy het nie weer teruggekeer nie. 

Volgens Saru se verklaring het hy benewens ’n kopbesering ook ’n seer enkel. Dis waarom hy nie saamgereis het Bloemfontein toe nie.

Sy vroeë vertrek het Coetzee reeds in die wedstryd ontneem van ’n groot kans om die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, te oortuig dat sy vermoë by die afbreekpunte, veelsydigheid en ervaring ’n moet is vir die span se WB-aanslag. Dit sal hom straks ook geen guns doen om nie die belyningskamp by te woon nie.

Erasmus het Saterdagaand te kenne gegee dat Coetzee se situasie ’n tameletjie is.

“Dit is moeilik om ’n speler te beoordeel nadat hy net 15 minute op die veld was,” het Erasmus gesê.

“Dit is nie maklik in ’n WB-jaar nie. Aphiwe (Dyantyi) en Warren (Whiteley), wat spelers van gehalte is, is in ’n stryd teen tyd en die tydsberekening (van hul beserings) tel teen hulle.

“Dit is nou moeilik vir Marcell, want ons weet wat ons in ander losvoorspelers het en hulle het goed gespeel in vorige wedstryde. Ons weet wat hy die span kan bied en daardie 15 minute sal nie deurslaggewend wees vir Marcell nie.” 

Vier spelers wat die naweek vir die Bokke gespeel het, is terug na hul unies gestuur. Hulle is die WP-spelers Dillyn Leyds, Wilco Louw en Scarra Ntubeni, asook die Bulle se Marco van Staden.

Saru het aangedui dat die oogmerk van die kamp is om die spelers se fokus na die Wêreldbeker te verskuif en benewens veldsessies ook ’n reeks “tegniese aktiwiteite” sal insluit.

Na die kamp sal die groep terugkeer na Johannesburg, waar die finale WB-groep van 31 aanstaande Maandag aangekondig sal word.

 Die 36 spelers in Bloemfontein is: Voorspelers: Schalk Brits, Lood de Jager, Thomas du Toit, Pieter-Steph du Toit, Rynhardt Elstadt, Eben Etzebeth, Lizo Gqoboka, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Siya Kolisi, Francois Louw, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Tendai Mtawarira, Franco Mostert, Trevor Nyakane, Marvin Orie, Kwagga Smith, RG Snyman, Duane Vermeulen.

Agterspelers: Lukhanyo Am, Damian de Allende, Faf de Klerk, André Esterhuizen, Warrick Gelant, Elton Jantjies, Herschel Jantjies, Cheslin Kolbe, Jesse Kriel, Makazole Mapimpi, Sbu Nkosi, Willie le Roux, Handré Pollard, Cobus Reinach, Frans Steyn.

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Bloemfontein  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.