Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Suid-Afrika t. Franse: Houdini-Bokke!

Sjoe, Bokke! Flou in die eerste helfte en so amper magnifique le Springbok in die tweede.

Die Bokke se plaasvervanger-haker, Bongi Mbonambi, brul ná sy wendrie in Parys. Handré Pollard is net so verheug. Foto: AP

Dit was allermins ’n vertoning wat dit die moeite werd gemaak het om tot middernag voor die kassie te sit, maar die Springbokke het in ’n koue en nat Parys hul jaareindtoer op koers gekry met ’n rillersege van 29-26 oor Frankryk.

Bongi Mbonambi, die besoekers se plaasvervanger-haker, se rolmaaldrie toe speeltyd al verstreke was, het dié een op dramatiese wyse vir die Bokke deurgetrek.

Die sege in die Stade de France bring welkome verligting ná verlede week se mislukking in Londen.

Wanneer ’n kragmeting so ’n slordige affêre soos dié oplewer, moet jy die meeste maak met dit wat na jou kant toe kom.

Cheslin Kolbe, die Bokke se plaasvervanger, het met die einde in sig ’n kans gehad om die “wendrie” te druk, maar hy het in die doelgebied beheer oor die bal verloor.

Nadat die All Blacks vroeër die dag óók ’n Houdini-truuk moes doen om ’n omgesukkelde Engeland op Twickenham te troef, besef jy opnuut die spanne uit die suide moet diep delf om aan die einde van ’n lang seisoen in die Noordelike Halfrond sukses te behaal.

Tog sal ondersteuners wonder: Waar is die passie en durf waarmee Siya Kolisi en sy span vanjaar in die twee toetse teen die Kiwi’s gespeel het?

Voor rustyd (16-9 in die Franse se guns) was die verskil tussen die spanne die Hane-kaptein, Guilhem Guirado, se verdoelde drie.

Hy het naby die besoekers se doellyn van ’n losgemaal weggebreek en gaan druk.

Dit maak nie saak watter trui jy Pieter-Steph du Toit gee nie, hy is vanjaar onomwonde die hartklop in die Bokke se pak.

Daar was min onderneming aan die Bokke se kant en die skrumskakel, Faf de Klerk, se skopwerk het plek-plek min voordeel vir sy span gebring.

Die Hane het kort nadat daar gaan rus is, kortstondig ’n voorsprong van 23-9 gehad toe die senter Mathieu Bastareaud sy span se tweede drie gaan druk het.

Slordige spel deur die Franse met die afskop het die Bok-sneller Sbu Nkosi toegelaat om die agterstand weer sewe punte te maak.

Daar was daarna nog een kans, maar Kolbe het dit verkwis. Dit was voordat die Bok-voorhoede die doodskoot gegee het.

’n Hele Bok-pak het hul reputasie gestand gedoen.

Dit maak nie saak watter trui jy Pieter-Steph du Toit gee nie, hy is vanjaar onomwonde die hartklop in die Bokke se pak. Afgesien van die liederlike aanslaan wat so hittete op die Franse regtervleuel, Teddy Thomas, se drie gelei het, het hy weer die veld vol gespeel.

Statistieke van hoeveel duikslae hy al vanjaar in die Groen-en-goud gemaak het, behoort indrukwekkende leesstof te wees.

Dié Swartlander en sy slotmaat, Franco Mostert, wat self ’n flukse werkesel is, het goed gekombineer en Erasmus sal vorentoe eenvoudig vir albei ’n plek in sy uitsoek-agttal moet kry.

Met die Wêreldbeker-toernooi wat oor sowat tien maande in Japan afskop, het Erasmus beslis nog ’n hele paar onbeantwoorde vrae. Veral in die agttal.

Waar byvoorbeeld pas Du Toit en Mostert in die legkaart in wanneer die ervare Eben Etzebeth en Lood de Jager weer behoorlik op dreef is en is Duane Vermeulen, wat op sy stukke was, nie van groter waarde op agtsteman nie?

Nietemin, daar is ’n paar geharde krygers in die Bok-voorhoede en eerder dié moeilike besluite as om te tob oor diepte.

Kom tyd, kom raad, maar fokus vir eers op die Bokke wat Sondag met wenmomentum in Edinburgh aankom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.