Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hougaard weer gou terug op Loftus

Francois Hougaard se kop én tokse staan Loftus Vers­feld se kant toe.

Francois Hougaard duik sierlik oor vir sy drie teen die Stormers in die Superrugby-eindstryd van 2010. Foto: Christiaan Kotze

Dit lyk na ’n byna uitgemaakte saak dat die voormalige Blou Bul en ervare Springbok met 46 toetse agter sy naam hom in Julie by Jake White se span sal aansluit.

Boonop lyk dit of nog ’n voormalige Bok, Johan Goosen, van plan verander het en nou eerder by die Bulle as die Cheetahs wil aansluit.

Vir White sal die ervaring wat hy in Hougaard, Goosen (18 toetse) en die Bulle se ander aanwins, Marcell Coetzee (30 toetse), bykry van groot waarde wees met die oog op die Bulle se toetrede tot die Pro16-reeks. Die trio het goeie kennis van Europese speeltoestande, wat vir die Bulle ’n groot bate sal wees.

White se planne eindig nie met Hougaard, Coetzee en Goosen nie. Bongi Mbonambi en Damian Willemse is twee ander Bokke wat White vanjaar nog deel van sy spelerskorps wil maak.

Die veelsydigheid van die 32-jarige Hougaard en 28-jarige Goosen sal White ook makliker in staat stel om ’n bank met ses voorspelers en slegs twee agterspelers te kies.

Hougaard het al toetsrugby op skrumskakel en vleuel gespeel. Goosen is soos ’n Frans Steyn ewe tuis op losskakel, senter of heelagter.

Hougaard se kontraktering maak verdere sin aangesien Ivan van Zyl ’n kontrak met die Engelse klubspan Saracens gesluit het. Hougaard se teenwoordigheid sal baie vir Embrose Papier beteken, wat probeer om sy plek in die Bokspan te herwin en die kans sal wil aangryp om by Hougaard te leer.

Hougaard is geen vreemdeling in Pretoria nie.

Hy het die Bulle van 2008 tot 2015 verteenwoordig voordat hy in 2016 na sy Engelse klubspan Worcester Warriors is.

Hy het as ’n 21-jarige Blou Bul sy toetsbuiging op 21 November 2009 in Udine vir die Bokke gemaak. Die oudleerling van Paul Roos het sy laaste toets op 16 September 2017 in Albany teen die All Blacks gespeel.

Johan Goosen gaan nou eerder by die Bulle as die Cheetahs aansluit. Foto: Getty Images

Goosen sal die Bulle goeie diepte op losskakel en heelagter bied in die lig van onsekerheid oor hoe lank Morné Steyn (36 jaar) en Gio Aplon (38 jaar) nog sal speel. Aplon herstel van ’n kniebesering en daar word duim vasgehou dat hy weer sal speel.

Goosen se besluit om eindelik ’n Bul te word, is ’n yslike terugslag vir die Cheetahs. Die Cheetahs het nog tot Dinsdag geglo hy sal hom in Bloemfontein vestig.

Hoe onverwags Goosen se besluit vir die Cheetahs was om Loftus sy tuiste te maak, blyk uit die Cheetahs se uitvoerende hoof, Harold Verster, se verwysing na Goosen in sy nuusverklaring die afgelope week.

Die Bulle se topdrie, Willem Strauss, White en Edgar Rathbone, het egter Goosen se arm gedraai.

Die Bulle se deelname aan die Pro16-reeks en Goosen se droom om eendag weer toetsrugby te speel het die topdrie gehelp om hom te oortuig dat Pretoria beter vir sy loopbaan is. Hy sal nou in Julie deel word van die nuwe Bul-era onder White.

Dinge het al baie verander sedert White verlede jaar by Loftus ingestap het. Net agterlangs is spelers soos Manie Libbok, Burger Odendaal, Dylan Sage, Johnny Kotze, Rosko Specman, Divan Rossouw en Warrick Gelant weg, wat White ruimte vir kontraktering in sy groep van 45 senior spelers bied.

Goosen se kontrak eindig in Junie met die Franse klubspan Montpellier.

’n Aankondiging oor Goosen en Hougaard se kontraktering kan binne die volgende paar weke deur die Bulle volg.

Meer oor:  Francois Hougaard  |  Jake White  |  Johan Goosen  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.