Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Huldeblyke ná Ronnie Masson sterf
Ronnie Masson, oudpresident van die WP Rugbyunie, is Maandag dood. Foto: Gallo Images

Ronnie Masson, oudpresident van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) en ’n groot gees van Suid-Afrikaanse rugby, is Maandag in die ouderdom van 84 oorlede.

Volgens sy seun, Larry, is Masson aan Covid-19 dood.

Masson was die eerste president van die WPRU ná Suid-Afrikaanse rugby se eenwording in 1992 en ook ’n senior visepresident van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru).

Mark Alexander, president van Saru, het Dinsdag in ’n verklaring hulde aan Masson gebring.

“Ronnie was ’n uiters ervare en gesiene rugbyadministrateur en sakeman en het ’n groot rol gespeel in ’n uitdagende tyd in ons rugbygeskiedenis, veral in die herstel en bou van verhoudinge gedurende sy nege jaar in sy posisie,” sê Alexander.

Mark Alexander, president van Saru, het met groot lof oor wyle Ronnie Masson gepraat. Foto: Gallo Images

“Hy kon, deur sy yslike ervaring by Sanlam, vir SA Rugby en die WP deur onstuimige waters lei. Sy rol om die gesig van die spel in Suid-Afrika te verander, sal nooit vergeet word nie.

“Sy naasbestaandes is in ons gedagtes en gebede. Ons hoop dat hulle troos sal vind in die wonderlike herinneringe van Ronnie.”

Saru sê in sy verklaring dat Masson se sakekennis waardevol was met die oorgang van die amateur- na die beroepsera in die 1990’s.

Zelt Marais, president van die WPRU, sê in ’n verklaring dat ’n “reus vir die spel verlore is”.

“Ronnie Masson het ’n kritieke rol gespeel om die verskillende rugbygemeenskappe by mekaar uit te bring in ’n belangrike tydstip in ons geskiedenis,” sê Marais.

“Sy liefde vir die spel en passie vir die WP was ’n voorbeeld vir ons almal.”

Thelo Wakefield, oudpresident van die WPRU, het aan Netwerk24 gesê dat Masson se sakekennis van groot waarde was en dat daar met hom finansiële stabiliteit in die unie was.

“Ronnie was op ’n moeilike tydperk die eerste president van ’n veelrassige unie, waar hy met verskillende ideologieë te doen gekry het. Dit was opmerklik dat almal groot respek vir hom gehad het,” sê Wakefield.

“Hy het uit die staanspoor gewys dat hy die WP op alle gebiede wil verenig. Ons het nooit die gevoel gekry dat hy baasspelerig was of ons minderwaardig wou laat voel nie. Sy termyn as president van die WPRU was die belangrikste.”

Meer oor:  Wpru  |  Mark Alexander  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.