Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Húlle help Gatland op Leeus-toer
Gregor Townsend, wat as speler in 1997 ’n reeks saam met die Leeus in Suid-Afrika gewen het, is vanjaar hul aanvalsafrigter. Foto: Getty Images

Gregor Townsend, Robin McBryde, Steve Tandy en Neil Jenkins is as die Britse en Ierse Leeus se hulpafrigters aangewys vir hul toer later vanjaar in Suid-Afrika.

Townsend en Tandy, albei uit Skotland se geledere, is onderskeidelik as aanval- en verdedigingsafrigter aangewys.

McBryde en Jenkins, wat albei oudspelers van Wallis is, sal onderskeidelik die voorspelers en skoppers afrig.

Steve Tandy, wat Skotland se verdediging ’n hegte eenheid gemaak het, sal daardie rol vir die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika vervul. Foto: Getty Images

Soos verwag is, is daar nie plek vir die Engelse hulpafrigters Matt Proudfoot en John Mitchell nie. Albei het ervaring van afrigting in Suid-Afrika en Proudfoot was selfs die Springbokke se voorspelerafrigter in die 2019 Wêreldbeker-toernooi in Japan. Mitchell het op sy beurt die Leeus en Bulle afgerig voordat hy Engeland se verdedigingsafrigter geword het.

Die binnekennis het egter nie in hul guns getel nie.

Warren Gatland, die Leeus se hoofafrigter, meen hy het ’n afrigtingspan van “hoë gehalte” saamgestel.

“Dis werklik ’n sterk groep en ek is opgewonde om te sien wat ons saam kan bereik. Ek dink ons sal mekaar goed in Suid-Afrika aanvul,” sê hy in ’n verklaring deur die Britse en Ierse Leeus.

“ ’n Leeus-toer is ’n unieke uitdaging, so dis belangrik om kontinuïteit in die groep te hê. Neil het ’n begrip van die groot vereistes wat ’n Leeus-toer meebring en ons sal baat vind by sy kennis en ervaring.

Neil Jenkins van Wallis is die Leeus se skopafrigter. Foto: Getty Images
Robin McBryde, ’n oudspeler vir Wallis, sal die Leeus se voorspelers afrig. Foto: Getty Images

“Terselfdertyd is dit belangrik om nuwe stemme te hê en vars perspektief te kry. Gregor doen uitstekende werk aan die spits van Skotland en is ’n uitnemende afrigter. Hy het ook die ervaring van ’n toer in Suid-Afrika en weet wat dit verg om daar te wen, so ek is baie bly dat hy deel van ons opset gaan wees.

“Steve het toegesien dat Skotland een van die beste verdedigingstelsels ter wêreld het – iets wat ons strykdeur in die Sesnasies-reeks gesien het. Hy’s duidelik ’n intelligente afrigter.

“Robin is iemand wat ek baie goed ken van ons tyd saam in Wallis. Hy’s ’n indrukwekkende en ervare afrigter wat steeds welslae by Leinster behaal. Ek dink hy sal goed by die Leeus-omgewing inpas en puik werk met die voorspelers verrig.”

Gatland sê dat hy nader aan die toer “addisionele hulpbronne” kan byvoeg.

• Die Leeus-toer begin op 3 Julie met ’n wedstryd teen die Stormers in Kaapstad en eindig met die derde toets teen Suid-Afrika op 7 Augustus.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.