Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hupstoot van R100 m. wink vir WP

Nuweland gaan herontwikkel word en die Westelike Provinsie gaan daardeur sy geldkoffer met sowat R100 miljoen kan voller maak.

Die bankreus Investec se aanbod om die ikoniese toetsstadion in ’n kantoor- en vermaaklikheidskompleks te omskep, is deur die WP se sakevleuel én die uitvoerende komitee van die WPRU aanvaar en die kontrak vir die herontwikkeling van Nuweland kan binne die volgende paar weke afgehandel wees.

Die ikoniese Nuweland-stadion in Kaapstad.Foto: gallo

As die WP en Investec die knoop deurhak, sal dit beteken dat die spanne van die WP en Stormers voortaan in die Kaapstad-stadion sal speel.

Daar word beoog om Nuweland in ’n kantoor- en ’n vermaaklikheidsgebied te herontwikkel sodat dit meer by die omliggende omgewing inpas. Die WP sal steeds die grond besit en ’n deel van die winste kry.

Dié groot geldelike inspuiting sal die enorme druk op die WP se geldsake verlig. Die WP het verlede jaar ’n verlies van meer as R30 miljoen gely en skuld Remgro ook nog sowat R50 miljoen.

Die transaksie kan ook ’n einde maak aan die binnegevegte in die unie wat tussen die amateurvleuel en die sakearm gewoed het oor beheer oor die geldsake.

Die sakevleuel het nou ook daarin geslaag om die grootste gros senior spelers op sy boeke in die Kaap te hou.

Dit sluit Springbokke soos Steven Kitshoff, Pieter-Steph du Toit, Damian Willemse, Frans Malherbe en die belowende voormalige SA o.20-speler Juarno Augustus in.

Die faksie in die WP-unie se bestuur wat probeer het om die herontwerp van die afrigtingstrukture te kelder, het klaarblyklik misluk.

Ondanks sekere klubs se teenstand, sal die uitgesproke voormalige Blitsbok-afrigter Paul Treu se kontrak nie hernu word nie. Ander kontrakte wat nie hernu sal word nie, is dié van die Stormers-afrigter Robbie Fleck en sy assistent Paul Feeney. Feeney is Vrydag as Kenia se direkteur van rugby aangestel.

Die plan is dat Greg Hechter, die hoëprestasiebestuurder, baie van Treu pligte sal oorneem, terwyl Jerome Paarwater in beheer van junior rugby sal wees.

’n Moontlike ooreenkoms met Generation Schools om ’n skoolkompleks op die terrein van die WP se hoëprestasiesentrum in Bellville te laat oprig, word steeds ondersoek om te bepaal watter voor- en nadele dit vir WP kan inhou.

Dit word ook ondersoek of ’n lid van die unie-bestuur kommissie uit so ’n ooreenkoms gaan kry.

Rapport het Zelt Marais, president van die WPRU, Paul Zacks, uitvoerende hoof van WP Rugby, en die WP-woordvoerder, Michael de Vries, vir kommentaar genader, maar teen druktyd nog geen reaksie gekry nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.