Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Strauss: 'Dié huwelik sal nooit werk'

Bisar en ondeurdag.

Só beskryf Willem Strauss, president van die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU), die voorstel van Nick Mallett dat die Bulle en die Leeus in ’n Gautengse franchise saamgegooi word.

Wikus van Heerden het destyds die Cats in Superrugby gelei. Foto: Gallo Images

Dié gevierde oud-Springbok-afrigter het die spreekwoordelike knuppel in die duiwehok gegooi toe hy Dinsdag op ’n webinaar gesê het Suid-Afrikaanse rugby moet oorweeg om die spanne aan weerskante van die Jukskei, “wat skaars 50 km uit mekaar is”, saam te voeg.

Ook, meen Mallett, ’n franchise in die Oos-Kaap is ’n móét, want dit is die hartklop van swart rugby in die land.

Mallett het dié voorstelle gemaak in die lig van die verwoestende uitwerking wat die Covid-19-pandemie op die spel het. Hy het bygevoeg dat die land sy beroepspelers moet verminder.

In reaksie sê Strauss daar is verskeie redes waarom ’n “huwelik” tussen die Bulle en die Leeus nooit sal werk nie.

“Op grond van die bevolking en sterk ekonomie in die provinsie kan selfs ’n derde franchise in Gauteng lewensvatbaar wees.

“Ek sou wat wou gee om ’n rugby-franchise in Soweto te vestig.

Manchester United en Manchester City word nie gekombineer nie, hoewel die spanne in een stad is.
Willem Strauss

“Maar waarom sal jy hoegenaamd twee spanne met sulke sterk internasionale handelsmerke vir ’n generiese Gautengse span wil opoffer?

“Manchester United en Manchester City word nie gekombineer nie, hoewel die spanne in stad is.

“Onthou, die Bulle is die enigste Suid-Afrikaanse span wat al die Superrugby-titel gewen het.”

Strauss sê daar is ’n rede waarom spelers nie vir ’n Oos-Kaapse franchise wil speel nie.

Met alle respek, ’n speler soos Johnny Kotze gaan speel eerder by ’n tweedeliga-span in Japan as om hom by die Kings aan te sluit.
Willem Strauss

“Die streek gaan eers sy huis in orde moet kry. Met alle respek, ’n speler soos Johnny Kotze gaan speel eerder by ’n tweedeliga-span in Japan as om hom by die Kings aan te sluit.

“Daar is ’n rede waarom die span nie ’n gewilde rugbybestemming is nie. Natuurlik wil ons sien dat daar ’n sterk span in die Oos-Kaap is.”

Die oud-Springbok Tim Dlulane, wat in die Oos-Kaap gebore is en lank as ’n speler en spanbestuurder by die Bulle betrokke was, sê Mallett is in die kol met sy siening oor die Oos-Kaapse franchise.

“Die vraag is wel wie aan stuur daarvan gaan wees en hoe die talent ontgin en behou gaan word.

“Jy kan nie daardie mandaat aan administrateurs aan die amateurkant van die spel oorlaat nie.

“Dit is nodig dat Saru hande vat met private beleggers wat weet hoe om ’n onderneming te bestuur.

Willem Strauss, president van die Bulle, sê hy sal graag ook ’n rugby-franchise in Soweto wil vestig. Foto: Gallo Images

“Ons het ongelukkig gesien wat die uiteinde is wanneer rugby se belange nie vooropgestel word nie.”

Die voormalige Springbok-flank Wikus van Heerden, wat die Cats en die Leeus aangevoer en vir die Bulle Superrugby gespeel het, sê dit gaan moeilik wees om ’n nuwe en gedeelde kultuur te vestig.

“Die Cats (wat destyds bestaan het uit spelers van die Leeus en die Cheetahs) het net nooit gewerk nie.

“Ja, op papier was dit ’n sterk span, maar ’n Cats-kultuur is nooit aanvaar nie.

“Ek het vir die Leeus en die Bulle gespeel, glo my dit is twee verskillende omgewings. Elk met ’n trotse kultuur en geskiedenis.”

Van Heerden sê Bulle-ondersteuners gaan nooit die Leeus ondersteun nie en andersom.

“Die gevaar is dat ’n samevoeging van die spanne die ondersteuners wat wel nog Loftus Versfeld en Ellispark toe gaan, sal vervreem.”

Meer oor:  Soweto  |  Pretoria  |  Johannesburg  |  Wikus Van Heerden  |  Bulle  |  Superrugby  |  Leeus  |  Willem Strauss
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.