Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Errol Tobias: ‘Hy’s g’n bruin, hy’s pure goud!’
Errol Tobias in aksie tydens die Bokke se 1981-toer in Nieu-Seeland. Foto: Gallo

Vir Errol Tobias was die SA Barbarians se toer na die Britse Eilande in 1979 die sleutel om Suid-Afrika se eerste gekleurde Springbok te word.

Ná dié toer, waarin hy onder meer deur die Walliese en Britse Leeus-legende Barry John as “a flyhalf of perfect grace” besing is, het hy regdeur die feestyd hard geoefen. Die beloning was dat hy aan die begin van die 1980-seisoen op sy fiksste ooit was, vertel hy die afgelope week in ’n onderhoud.

Dié fisieke voorsprong het hom gehelp om in sy belangrikste wedstryd van die jaar – voor die Bok-groep vir die einde van die jaar-toer na Suid-Amerika aangewys is – ’n asemrowende vertoning te lewer. Dit was in ’n voorwedstryd vir die Springbokke teen die Britse Leeus toe hy in die Junior Springbok-trui teen die “internasionaal-sterbelaaide” SA Barbarians op Loftus Versfeld uitgedraf het. In dié wedstryd was sy direkte teenstander op losskakel Hugo Porta, toendertyd ’n “Maradona” van Suid-Amerikaanse rugby.

“In daardie wedstryd, dink ek, het ek vriend en vyand verras. Almal het kom kyk daardie dag vir Naas Botha se spel en Tony Ward in die toets en dan ook Hugo Porta se spel,” onthou Tobias. “Maar daar was rugby-entoesiaste wat my ook in die agterkop gehad het.”

Errol Tobias gesels in sy studeerkamer.

Die volgende oggend het dié opskrif in hoofletters bó die wedstrydverslag in Rapport verskyn: DIE SWART GEVAAR VEROWER LOFTUS. Die subtitel het gelees: “Porta was beslis nie beter as Tobias nie”; en die inleiding tot die berig: “Errol Tobias het die feit dat hy geskik is om vir die Springbokke te speel onderstreep nadat hy ’n skitterende vertoning gistermiddag vir die Junior Springbokke teen die Barbarians gelewer het en ’n beslissende rol in sy span se verrassend maklike oorwinning gespeel het.”

Botha het ’n afdag beleef en is deur ’n deel van die toeskouers uitgejou; Tobias is met dreunsang toegejuig.

Dié vertoning, sê die oud-losskakel nou 40 jaar later, het aan hom “die vrypas gegee om ’n Springbok te kan word” en het die Bok-keurders “tot daardie belangrike besluit gemotiveer”. Toegegee, dit kon nie maklik gewees het vir die keurders nie, voeg hy by. “Die keurders was onder druk; daar was van hul mense wat nie wou sien dat daar ’n swart speler in die Springbokspan speel nie. Maar daar was ook die true blue, soos hulle sê, die ware rugbykenners, wat gesê het vir dié man moet daar plek gemaak word in hierdie toergroep.”

Pompies Williams simpatiseer met Tobias ná die dood van sy vrou, Sandra, vroeër vanjaar. Foto: Sydney Armoed, TransOverberg

Tobias se groot opgewondenheid oor sy insluiting is ietwat gedemp deur die dood sowat drie maande vroeër van sy ma, Emily, in lewe sy grootste ondersteuner. Ook die herdenking nou van sy historiese triomf vier dekades gelede – Bok-debuut in 1980 en toetsdebuut in 1981 – is voorafgegaan deur ’n tragedie nadat sy vrou, Sandra, in Maart verlede jaar op sy 70ste verjaardag dood is.

Onder die kapteinskap van Morné du Plessis het Tobias van die Suid-Amerika-toer teruggekeer met ’n rits eerstes agter sy naam – eerste bruin speler wat die Groen-en-goud oor sy kop kon trek, eerste wat ’n Bok-drie kon druk, eerste wat ’n doelskop vir die Bokke behaal het – en wat boonop ’n rekord van tien doelskoppe ná mekaar “deur die pale [kon] klits”.

Ofskoon teleurstelling hom getref het deurdat hy nie in die daaropvolgende toetse teen die besoekende Franse kon speel nie, het hy wel sy kans gekry vir ’n SA Uitnodigingspan teen die Hane. Twee sensasionele drieë het gemaak dat hy skouer omhoog deur toeskouers van die veld gedra is – in Bloemfontein, in 1980.

Die volgende prestasie was ’n stappie hoër: “Jy speel Saterdag senter vir Suid-Afrika,” het dr. Danie Craven oor die foon gesê. Dit was met verwysing na die eerste van twee 1981-toetse teen die Iere. “Yes, Dok,” was Tobias se reaksie, “ek is reg”. Sowel in die eerste toets op Nuweland as die tweede in Port Elizabeth het hy sy woord teenoor Craven gestand gedoen en daarmee vir hom ’n plek in die toergroep na Nieu-Seeland bespreek.

“Ek moes hard werk om daardie erkenning te kry en op Springbok-standaard te funksioneer,” sê Tobias, “en veral toe ek gekeur word vir Nieu-Seeland, was die politicians letterlik stil gespeel.”

Hulle kon nie meer sê hy is net ’n politieke keuse nie, want almal in die land, oral, het besef hy is op meriete in die span.

Die Nieu-Seeland-toer was egter uit die staanspoor in omstredenheid gedompel en het tot groot onluste daar gelei, betogings by wedstryde, meelbomme op die veld - en op die koop toe vir Tobias die onwelkome houding van sommige spanmaats en bestuurslede.

Oor sy eie ervaring praat hy nie in ons telefoniese onderhoud nie; oor die span s’n sê hy: “Dit was ’n toets van karakter vir ons as Springbokke. Ons land se beleid was nie reg nie – en ek het al dikwels gewonder of dit die regte besluit was om te gaan.”

Tobias lê die stewel in vir Boland.

Tobias het hom later as die Bokke se voorste nommer tien gevestig, terwyl Botha sy skopvoet aan Amerikaanse voetbal gaan waag het. Spesifiek teen die Engelse toerspan in 1984 het die Caledonner – met bykanse vermetelheid – sy stempel afgedruk. Die Engelse afrigter Dick Greenwood het aan hom ’n titel vir sy outobiografie, Suiwer Goud, verskaf toe hy opmerk: “Tobias is nie bruin nie; hy is suiwer goud.”

Sedertdien het tientalle ander spelers van kleur die geleentheid gekry om die land op die rugbyveld te verteenwoordig. In 2019 is die Bokke selfs deur ’n swart kaptein, Siya Kolisi, tot ’n derde Wêreldbekeroorwinning gelei.

Tobias glo nie sy baanbrekersrol word daardeur in die skadu gestel nie.

“My insluiting in die Springbokspan was die begin van Siya Kolisi se aanwysing as die Springbokke se eerste swart kaptein,” antwoord hy op ’n vraag hieroor.

En soos die bouer van ouds wat hy is, span hy ’n konstruksie-metafoor in om sy pioniersrol verder te beklemtoon: ’n fondasie móét eers gelê word voordat enige gebou staangemaak kan word.

Nou wil hy hom toespits op motiveringspraatjies en om jonger spelers se talente te help slyp sodat hulle, soos hy vier dekades gelede, ook deur die halwe gaping van geleenthede kan breek.

* Die oud-Saru-stut Richard “Balla” Croy, wat die eerste rugbylegende was oor wie in hierdie rubriek geskryf is, is die afgelope week dood.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.