Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Iere het ‘binnekennis’ van Blitsbokke

Die Blitsbokke sal in alle waarskynlikheid op die eersdaagse Wêreldbeker-sewestoernooi met ’n voormalige vertroueling uit hul binnekring te make kry.

Neil Powell sal met ’n voormalige vertroueling en lid van die Blitsbokke se breintrust te doen kry wanneer Suid-Afrika in alle waarskynlikheid teen Ierland in die eerste ronde van die Wêreldbeker te staan sal kom. Foto: Gallo Images

Presies tot watter mate die Blitse se oud-fiksheidsghoeroe Allan Temple-Jones, wat nou by Ierland se sewesspan betrokke is, hul bedryfsgeheime téén hulle kan gebruik, moet nog gesien word. Suid-Afrika se huidige bestuur erken hy het intieme kennis van hul algemene praktyke.

Die opgang wat die Iere, wat nie ’n kernlid van die Wêreldsewesreeks is nie, onder Temple-Jones se invloed gemaak het, is egter merkwaardig.

Hulle het tydens die twee laaste toernooie van die seisoen, van die min waarin hulle deelgeneem het, die skare betower en verras met hul kreatiewe en kliniese spel.

Suid-Afrika sal in sy eerste wedstryd van die toernooi teen die wenner van die wedstryd tussen Ierland en Chili te staan kom en hoewel sewesrugby bra onvoorspelbaar is, is die verwagting dat Ierland die Chilene kan klop.

Neil Powell, die Blitsbok-breier, het gesê hulle berei voor vir albei spanne, maar gee toe dat Temple-Jones intieme kennis van die Blitsbokke se binnewerkinge het.

“Ek dink Ierland sal beslis oor binnekennis beskik, omdat Allan vir 11 jaar by ons betrokke was,” het Powell vanaf hul oefenkamp in Mosselbaai gesê.

“Hy ken die stelsel net so goed soos enigiemand anders wat al deel daarvan was. Hy ken ons wedstrydplan en weet wat ons op die verdediging en die aanval wil doen.”

Volgens Powell sal die binnekennis van die huidige wêreldkampioene beslis insiggewend vir Ierland wees en sal dit uitdagings vir die Blitsbokke bied.

“Ons moet net seker maak ons is gereed vir die eerste wedstryd. Die spanne wat in die eerste ronde speel, het ’n voordeel bo spanne soos ons wat die eerste ronde kan uitsit, maar ons het plannetjies in plek om ’n eerste wedstryd te simuleer.”

Die formaat van die Wêreldbeker stel unieke uitdagings aan die vaardighede en psige van ’n span. Dit is van meet af aan ’n uitklopkompetisie.

Maar Powell het daarop gewys dat hulle nie sal torring aan die wenresep wat hulle in twee opeenvolgende jare wêreldkampioene gemaak het nie.

“Hier en daar het ons ’n bietjie gaan verander hoe ons sake voor die toernooi gaan benader. Ons speel eers laat op die eerste dag, so ons sal nog ’n harde oefensessie insit wat sal dien as ’n ‘wedstryd’ in die eerste ronde.

“Ons fokus bly egter dieselfde soos al die toernooie van tevore: Die proses en die spelers se inspanning is belangrik en ons kyk nie verder as die eerste wedstryd nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.