Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cardiff: Iere sien rooi, Drake sien prooi

Die Ierse flank Peter O'Mahony se swak dissipline het sy span Sondag in die Principality-stadion in Cardiff duur te staan gekom in ’n Sesnasies-wedstryd teen Wallis.

Die Walliese senter George North skuif oor die doellyn in Sondag se Sesnasieswedstryd teen Ierland in Cardiff. Wallis het met 21-16 gewen. Foto: Reuters

Wallis het dié spannende kragmeting met 21-16 gewen nadat die Iere rustyd nog met 13-6 voor was.

O'Mahony het in die 14de minuut, in ’n oomblik van waansin, in ’n losskrum geduik. Sy linkerskouer het die Walliese stut Thomas Francis teen die kop getref en nadat die voorval na die televisieskeidsregter verwys is, het die skeidsregter Wayne Barnes geen ander keuse gehad nie as om O’Mahony met ’n rooikaart te straf.

Dit het beteken dat die Iere, wat boonop hul beste slot James Ryan met harsingskudding verloor het, vir 66 minute met net 14 spelers moes klaarkom.

Die Iere het nietemin vir 60 minute stewig in die prentjie gebly. Ná twee drieë deur Wallis se George North en Louis Rees-Zammit het die Drake egter die hef in die hand gehad en het dit gelyk of die Iere se stoom begin opraak het.

Dit was uiteindelik pure oëverblindery, met die span in groen wat in die laaste tien minute baie diep gedelf het en met ’n bietjie meer geluk ’n sege uit die kake van ’n nederlaag kon gered het.

Met speeltyd reeds verstreke en die telling 21-16 in Wallis se guns, het die Iere ’n laaste strafskop sowat 25 meter van Wallis se doellyn af gekry. Ritse Walliese ondersteuners sou na hul hartpille gegryp het toe die plaasvervanger-losskakel, Billy Burns, aanlê kantlyn toe – maar hy het ’n reuse fout gemaak en die bal oor die doodlyn geskop. Dit was die einde van die Ierse aanslag, met Barnes wat dadelik die eindfluitjie geblaas het.

Die Iere het beslis nie verdien om te verloor nie. Agterlangs het James Lowe, Garry Ringrose en Robbie Henshaw die oog getref, terwyl CJ Stander en Josh van der Flier soos Trojane gespeel het.

Die Ierse kaptein Johnny Sexton, wat deur Burns vervang is, het gesê dat hy volle simpatie met Burns het, want soms mis jy die kol en ander kere is jy weer die held.

Vir Wallis was die sege baie soet. Dit is slegs die vierde oorwinning in die afrigter Wayne Pivac se termyn, wat nou tien wedstryde sterk is. Voor Sondag kon hulle onder Pivac se leiding net met Georgië en Italië (twee keer) klaarspeel.

Die veteraan-slot Alun Wyn Jones was weer die gom wat die span aanmekaar gehou het.

Puntemakers:

Wallis 21 (6): Drieë: George North, Louis Rees-Zammit. Doelskop: Leigh Halfpenny. Strafdoele: Halfpenny (3).

Ierland 16 (13): Drie: Taidgh Beirne. Doelskop: Johnny Sexton. Strafdoele: Sexton (2), Billy Burns.

Meer oor:  Wallis  |  Ierland  |  Sesnasies  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.