Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ierse legende sê span gaan by WB vou
Joe Schmidt, afrigter van Ierland Foto: Getty Images

Joe Schmidt se droom om Ierland te groet as die eerste afrigter om die span tot in die halfeindronde van ’n Wêreldbekertoernooi (WB) te brei, gaan nie verwesenlik word nie, sê die Ierse rugbylegende Tony Ward.

Schmidt sal ná afloop van die skouspel in Japan ná ses jaar aan die stuur van Ierland die span vaarwel roep. Sy sukses saam met die Iere sluit twee geskiedkundige seges teen die All Blacks en drie Sesnasies-titels in.

Die Nieu-Seelander is gretig om te vergoed vir sy span se teleurstellende nederlaag teen Argentinië in die kwarteindronde in 2015. Maar Ward, wat as een van Ierland se beste losskakels van alle tye beskou word, glo Schmidt sal nie sy doelwit van ’n plek in die halfeindronde bereik nie.

“Dit is ’n groot stap en ek dink dit is een stap te ver,” sê Ward (64) luidens Rugby365.

“Ons bevind ons in ’n redelik maklike groep, met alle respek aan Skotland, en dit is ’n gegewe dat ons vir die uitkloprondes sal kwalifiseer.

“Maar ons kon nie vir ’n moeiliker kwarteindwedstryd gevra het, waar ons met die Springbokke of die All Blacks sal moet afreken nie. Die Bokke beleef ’n herlewing, terwyl die All Blacks die beste span ter wêreld is.”

Ward was in 1979 die eerste ontvanger van die Europese Speler van die Jaar-prys. Hy het tussen 1978 en 1987 altesame 19 keer vir sy land uitgedraf en sou in meer toetse vir Ierland verskyn het as hy nie met Ollie Campbell om die nr. 10-trui moes meeding nie.

“Dit is belaglik dat ons die toernooi binnegaan as die nr. 1-span op die wêreldranglys. Dit weerspieël die onnoselheid van Wêreldrugby se ranglysstelsel,” sê hy.

“Ons is beslis nie die voorste span ter wêreld nie.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Bokke  |  Joe Schmidt  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Tony Ward  |  All Blacks  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.