
Muller Brink (regs) en Kulu Mcuma probeer albei besit verseker, met die Pukke se buitesenter, Evardi Boshoff, wat toekyk.Foto: Jaco Marais
Dit was koud, winderig en die ligte só sleg soos altyd op by die Groenmyl, maar Ikey-ondersteuners se harte het Maandagaand warm geklop nadat hul span die Pukke met 31-22 in ’n Varsitybeker-rugbywedstryd geklop het.
Tom Dawson-Squibb se span het pragtige hardlooprugby gespeel en die telling sou groter gewees het as hulle in die eerste helfte nie só deur die Pukke in die skrums gekarnuffel is nie. Die Pukke het vyf strafskoppe in die skrums afgedwing en danksy hul oorheersing in daardie faset met die rustyd met 17-14 voorgeloop. Twee van die besoekers se drie drieë in die eerste helfte het hul oorsprong in sterk skrumwerk gehad.
Die Ikeys was aanvanklik dalk ook te getrou aan hul tradisie van hardlooprugby, want hulle het soms diep in hul eie gebied die bal in die hand gehou. By een geleentheid het hul briljante losskakel, James Tedder, wel ’n bres geslaan en ’n sewepuntdrie afgerond.
Die Pukke het vier minute voor die rustyd sterk gestaan nadat Lincoln Daniels sy tweede drie afgerond het danksy Maarten Holtzhausen se berekende skoppie.
Ikeys het egter twee minute voor die omdraaislag toegeslaan met ’n drie deur Rayno Mapoe.
In die tweede helfte het Ikeys die wind in hul seile gehad en twee drieë binne die eerste vyf minute deur Gary Porter en Tedder het die wedstryd se gang bepaal.
Die studente van Potchefstroom het verwoed aangeval in die laaste 20 minute maar Ruan Swiegers se drie was te min en te laat.
* Puntemakers: Ikeys 31 (14): Drieë: James Tedder sewepuntdrie, Rayno Mapoe, Gary Porter, Liam Furniss sewepuntdrie. Doelskoppe: Tedder (2). Strafdoel: Tedder.
Pukke 22 (17): Drieë: Khulu Mcuma, Lincoln Daniels (2), Ruan Swiegers. Doelskop: Riaan Genis.