Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Dit beteken niks as jy nie indruk maak’
Suid-Afrika se Mathrin Simmers laat loop die bal, met twee spelers van Fidji wat haar met arendsoë dophou. Foto: Gallo Images

Dit is seker te verstane dat Paul Delport, breier van die Suid-Afrikaanse vroue-sewesrugbyspan, ’n effens gefrustreerde man was nadat sy span Saterdag sy derde nederlaag in die Kaapstad-sewestoernooi gely het.

Fidji het die Imbokodo, soos wat die nasionale span bekend staan, in die tuisspan se laaste groepwedstryd met 27-5 geklop. Dit het beteken dat Suid-Afrika nie een oorwinning in sy drie groepwedstryde kon behaal nie.

Boonop het die reën kort voor die aanvang van die wedstryd uitgesak – iets wat sake vir die tuisspan bemoeilik het.

“Ja, dit was ’n moeilike middag. Ek het eintlik gedink die reën sal sake meer gelykop maak. Ons het baie aandag aan ons skopwerk (vooraf) gegee – iets wat ons ’n bietjie beter moes uitgevoer het.

“Vir Fidji om die rugby te speel wat hulle gespeel het, in hierdie weer, het hul klas onderstreep,” sê Delport.

Hy het op die nuuskonferensie ná die wedstryd aanvanklik gelyk of hy sukkel om sy emosies onder beheer te kry. Met reg ook: Deelname aan die toernooi is ’n reuse-uitdaging vir die Imbokodo, wat slegs deelneem omdat Suid-Afrika die gasheer is. Dit beteken egter nie dat hy nie hoë verwagtinge van sy span koester nie.

“Ons besluitneming was sleg. Dit is nie die meisies se skuld nie, dit is iets wat ons as afrigters hulle mee moet bemagtig.

“Ons het vooraf oor die prosesse gepraat en dit is een ding wat vir ons teleurstellend is. Ons het nou drie wedstryde gespeel en nie een keer ons plan uitgevoer nie.

14-12-2019 NETWER24 Day 2 of the HSBC Cape Town Se
Buhle Somanzi van die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan probeer deur die Russiese verdediging bars in die spanne se kragmeting in die Kaapstad-sewestoernooi Saterdag. Foto: Jaco Marais

“So dit is iets waarna ek sal moet gaan kyk – of ek die plan reg aan die span kommunikeer. Ook of dit wat ek sê die regte plan is,” sê Delport.

Maar die goeie nuus is dat Delport se span Sondag ’n gulde geleentheid kry om te wys dat hulle wel op dié verhoog tuis is. Hoewel Suid-Afrika laaste in Groep A klaargemaak het, sal hy Sondag teen Spanje uitspeel om die negende plek.

Brasilië en Ierland, wat onderskeidelik laaste in Groep B en C geëindig het, het ook elkeen drie punte, maar die Imbokodo se beter punteverskil beteken dat die tuisspan nie om die houtlepel sal meeding nie.

“Ons mikpunt voor die aanvang (van die toernooi) was om onder die voorste 10 spanne te eindig. So dit is baie belangrik vir ons.

“Ek het hoë verwagtinge van die meisies vir môre. Dit is ons laaste wedstryd voor ons tuisskare en hulle sal regtig moet uithaal en wys,” sê hy.

Op die vraag wat dit beteken om in die Kaapstad-stadion voor ’n klomp toeskouers te speel, was dit duidelik dat dié realiteit Delport en sy span getref het.

“Dit beteken niks as jy nie ’n indruk kan maak en ook nie speel soos wat jy kan nie. Ek is bevooroordeeld, omdat ek elke dag saam met hierdie ongelooflike vroue is.

“Maar soos ek gesê het, hulle het na die toernooi gekom en nie gewys waartoe hulle in staat is nie,” sê Delport.

*Die Imbokodo se wedstryd teen Spanje begin om 13:33 (SS 1).

Meer oor:  Paul Delport  |  Sewes  |  Kaapstad-Sewestoernooi  |  Imbokodo  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.