Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Imbokodo laat afrigter Delport kopkrap

Wanneer ’n span nie na wens vertoon nie, is dit seker te verstane dat sy afrigter êrens langs die pad in die spieël gaan kyk en ’n paar vrae aan homself oor sy eie vermoëns gaan vra.

Verslae, maar nie teen die planke nie. Die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan ná afloop van hul wedstryd Sondag teen Spanje by die Kaapstad-sewestoernooi. Foto: Gallo Images

Dit was presies die geval met Paul Delport, afrigter van die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan, nadat sy span nie een sege op die naweek se Kaapstad-sewestoernooi kon behaal nie.

Spanje het die Imbokodo, soos die nasionale span bekend staan, Sondag in die uitspeelwedstryd om die negende plek met 19-7 geklop. Suid-Afrika het ook al drie sy groepwedstryde verloor.

“Dit was ’n goeie wedstryd. Spanje het uitgegaan en goeie rugby teen ’n hoë intensiteit gespeel. Ek dink ons het ons skuldig gemaak aan basiese foute.

“Daar kan geen fout gevind word met die spelers se poging nie, ek dink ek moet teruggaan en introspeksie gaan hou.

“Die moeilikste ding vir my is dat dit die helfte van die tyd lyk asof hulle nie afgerig word nie. Miskien sal ek dinge op ’n ander manier moet doen,” het ’n emosionele Delport ná die tyd gesê.

Paul Delport, afrigter van die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan. Foto: Gallo Images

Dit is seker te verstane dat hy gefrustreerd was. Daar was tye dat die Imbokodo goeie lopies teen die Spanjaarde ingekry het, maar dinge soos samespel het gelol. Wat dit seker vir die oningeligtes kan laat lyk dat die Imbokodo herderloos is.

Maar dit is seker nie te versmaai om 10de uit 12 spanne klaar te maak nie. Tog was daar veral hoop dat Suid-Afrika dalk vir Rusland in die groepwedstryde kon klop.

Dat Delport verantwoordelikheid aanvaar vir sy span se vertoning word verwelkom, maar vir die vrouespan om in Wêreldrugby se sewesreeks te speel, is nie kinderspeletjies nie.

Die Imbokodo neem slegs deel omdat Suid-Afrika die gasheer is, en is nie gewoond daaraan om teen spanne soos Nieu-Seeland en Fidji te speel nie. Hul gebrek aan ondervinding op dié vlak het uitgestaan, maar tog is hulle nie verneder nie.

Maar met die nodige langtermynplan en finansiering is daar geen rede hoekom die Imbokodo nie in die afsienbare toekoms net soos die Blitsbokke ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika kan word nie.

Meer oor:  Sewes  |  Imbokodo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.