Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Imbokodo se breier ingenome
Die Imbokodo se Sizo Solontsi word om die enkels beetgekry in die SA vrouespan se eerste wedstryd in die Kaapstad-sewestoernooi. Foto: Jaco Marais

Wanneer ’n Suid-Afrikaanse rugbyspan sleg op sy baadjie kry teen sy eweknie van Nieu-Seeland en die afrigter is ná die wedstryd in ’n opgewekte bui, kan jy verskoon word as jy dink hy het die pad byster geraak.

Dit was egter presies hoe Paul Delport, afrigter van die nasionale vroue-sewesspan, gelyk het nadat die Kiwi’s sy span Vrydag op die eerste dag van die Kaapstad-sewestoernooi met 40-0 geklop het.

“Nieu-Seeland is die beste span in die wêreld. Ek het gevoel ons kon ons wedstrydplan ’n bietjie beter uitgevoer het.

Ek is baie trots op die meisies. Ons het altyd ’n plan gehad, maar dit is onder soveel druk dat ’n mens leer om aanpasbaar te wees.
Paul Delport

“Maar ek is baie trots op die meisies. Ons het altyd ’n plan gehad, maar dit is onder soveel druk dat ’n mens leer om aanpasbaar te wees.

“Ek is baie tevrede met ons eerste kragmeting, want dit is gespeel teen ’n intensiteit waaraan ons nie gewoond is nie. Hopelik sal ons môre (Saterdag) ’n bietjie beter vaar,” sê hy.

In Delport sy verdediging kan gesê word dat hy inderdaad rede het om optimisties te wees. Die Imbokodo, soos die span bekend staan, het goeie rekenskap van homself gegee.

Dit was sonder twyfel die meeste toeskouers voor wie die tuisspan nog gespeel het. En almal moet mos êrens begin.

Boonop is die Imbokodo nie eens een van die deelnemende spanne in Wêreldrugby se sewesreeks nie, en slegs in aksie in Kaapstad omdat Suid-Afrika die gasheer is.

Onthou ook dat Nieu-Seeland nie sommer enige teenstander is nie. Hy was verlede seisoen die wenner in die wêreldreeks en word tans as die beste span in die wêreld beskou.

Nadine Roos laat loop die bal tydens ’n oefensessie van die nasionale span by Bishops in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Spelers soos Nadine Roos het gewys sy skroom nie om die Kiwi’s op die aanval aan te vat nie, terwyl die Suid-Afrikaners ook veral aanvanklik vir ’n vale verdedig het.

Daar was wel op meer as een geleentheid ’n Imbokodo-speler wat deur ’n gaping gekom het en gelyk het asof sy nie kan glo dat sy nog nie platgetrek is nie. Dan, op die oomblik wanneer sy getwyfel, is sy grond toe gebring. Maar, weer eens, dit sal met tyd regkom.

Wat wel lastig was, was die geelkaart wat Sizo Solontsi vroeg in die wedstryd gekry het nadat sy ’n bal afgeklap het.

Suid-Afrika se laaste twee groepwedstryde is Saterdag, teen Rusland en Fidji. Die Fidjiane het Rusland vroeër met 38-19 geklop.

Dit is nie wensdenkery om te sê dat die Imbokodo met die Russe kan afreken nie. Dit sal die span ’n inspuiting van selfvertroue soos min gee.

* Die Imbokodo se wedstryde Saterdag: 10:13: SA t. Rusland, 16:03: SA t. Fidji (albei op SS 1).

Meer oor:  Paul Delport  |  Kaapstad  |  Afrigter  |  Imbokodo  |  Sewesrugby  |  Wereldreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.