Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Investec se betaling red WP Rugby

Die Westelike Provinsie se rugbybase is uit ’n yslike geldelike verknorsing gered toe die bankreus Investec Vrydag sy eerste paaiement oorbetaal het van ’n ooreenkoms van etlike miljoene rand met die WP om die Nuweland-stadion te herontwikkel.

Volgens Rapport se inligting kon die WP in die laaste tyd nie sy finansiële verpligtinge nakom nie en het werknemers van die WP se sakevleuel die week agtergekom die maatskappy het nie die aftrekkings van hul salarisse vir werknemersbelasting en pensioenfondsbydrae oorbetaal nie. Dit is strydig met die Maatskappyewet.

Die Nuweland-krieketstadion. Foto: Denzil Maregele

Investec se betaling Vrydagmiddag het die kontantvloei-situasie herstel, met die verstandhouding dat alle uitstaande betalings teen vroeg aanstaande week sal geskied.

Benewens die pensioengeld en werknemersbelasting wat wel van personeel se salarisse afgetrek is, maar nooit oorbetaal is nie, is Rapport die week ook ingelig dat spelersagente se kommissie laat betaal is en dat sekere betalings ook nie eerbiedig is nie.

Rapport het voorheen berig dat die sakevleuel meer as R30 miljoen in die rooi is en deur SA Rugby gedwing is om ’n aanbod vir die herontwikkeling van Nuweland te aanvaar om te kan oorleef.

Die eerste betaling sal die bedryfskoste dek en WP weer op koers sit, sê ingeligtes naby aan die rugbystrukture in die provinsie, terwyl daar reeds samesprekings is tussen Investec en Remgro, die grootste krediteur van die WP, om ’n lening van R52 miljoen af te los.

Volgens Rapport se inligting sal Investec die lening regstreeks by Remgro aflos en die papierwerk vir die transaksie is reeds gedoen. Die R52 miljoen sal uit die kontanttransaksie van R110-miljoen betaal word. Investec sal binne drie jaar met die herontwikkeling van die ikoniese stadion begin, en die WP en Stormers se rugbyspanne sal na Kaapstad-stadion verhuis.

Intussen word vrae gevra oor die aanstelling van Ruben Malchelm, ’n voormalige klubamptenaar, wat blykbaar deur Zelt Marais, WPRU se president, aangestel is sonder die wete van die sakevleuel.

Die vakbond Sport Employees Unite (SEU) het ’n brief aan die WP gestuur nadat van hul lede – werknemers van die WP – gekla het oor die aanstelling, veral in die lig van die kontantkrisis en ’n moratorium op aanstellings.

Poste by WP is ook gevries en die bewering is dat Marais eensydig besluit het om Malchelm aan te stel.

Piet Heymans, uitvoerende hoof van die SEU, sê die kwessie kan na die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie (KBVA) verwys word.

“Dit is kommerwekkend dat verkose amptenare van rugbyunies skynbaar geen ag slaan op goeie korporatiewe bestuur nie. Dit lei daartoe dat die funksionering en administrasie van die rugbyunies negatief beïnvloed word.”

Heymans sê verder die saak sal na die KBVA verwys word “as die aanstelling nie teruggetrek word en behoorlik ingevolge die beleidsdokument van die WP gedoen word nie”.

Marais, Paul Zacks, uitvoerende hoof van die WP, en Michael de Vries, woordvoerder van die WP, het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Investec  |  Westelike Provinsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.