Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Is dit koebaai Bulle, hallo huis vir Human?

Komkommertyd klop aan die Bulle se deur nadat die Cheetahs se belangstelling in Daan Human as ’n moontlike opvolger vir Franco Smith na vore gekom het.

Human sou van Junie af voltyds as skrumafrigter in die Bulle se diens wees. Hy het die Cheetahs nog in die afgelope Pro14-reeks in dieselfde hoedanigheid gehelp.

Daan Human

In die jongste verwikkeling het Rapport egter verneem Human kan een van die name op die kortlys wees wanneer aansoeke vir Smith se pos einde Mei sluit.

Die 43-jarige boerseun van Verkeerdevlei net buite Bloemfontein was in 2017 en 2018 die Cheetahs se Curriebeker-hoofafrigter. Dié voormalige Springbokstut, wat die Franse klubspan Toulouse in 169 wedstryde verteenwoordig het ná sy speeldae by die Stormers, het in die Curriebeker as hoofafrigter beïndruk al word hy hoog as ’n skrum­afrigter aangeslaan.

Die Bulle sal nie in Human se pad staan as hy wel uiteindelik ’n pos as hoofafrigter aangebied word nie.

Deon Davids se naam sal volgens ’n ingeligte nie op die Cheetahs se sogenaamde kortlys wees nie.

Die Cheetahs het voor hul laaste Pro14-kragmeting met die Southern Kings goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gevra om met Davids te praat. Gesprekke het intussen doodgeloop, met Davids en die Kings wie se paaie binnekort ook sal skei.

Die feit dat die Kings se base die naweek die eindstryd van die Pro14-reeks bywoon en siekte in Davids se familie laat onderhandelinge tussen hulle langer duur as wat aanvanklik vermoed is. Sy pos by die Kings sal geadverteer word as hulle ’n bevredigende ooreenkoms bereik.

Onder die ander aanspraakmakers oorweeg die Maties se Hawies Fourie die Cheetah-pos steeds sterk. Hy geniet goeie ondersteuning in Bloemfontein.

Smith se hulpafrigter, Corniel van Zyl, se naam sal ook in die hoed gegooi word.

Een van die Bokke se hulpafrigters, Matt Proudfoot, is nog nie uit die wedloop nie. Sy aandag is vir eers op die Bokke se Wêreldbeker-veldtog gerig, maar Smith se pos prikkel beslis sy belangstelling. Sy Bok-kontrak eindig ná die Wêreldbeker.

Die wyd gerespekteerde Jimmy Stonehouse, Jonathan Mo­kuena en André Tredoux is van die ander aanspraakmakers op Smith se pos.

Smith sal die Cheetahs nog in die Curriebeker afrig. Hy sal ook tot in November die Cheetahs se direkteur van rugby bly en volgende jaar Italië se hoofafrigter word.

Meer oor:  Cheetahs  |  Bulle  |  Franco Smith  |  Daan Human
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.