Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Is dít Rassie se Sending Onmoontlik?

Wen, transformeer en diepte uitbou.

Rassie Erasmus / Foto: Gallo Images

Die Springbok-afrigter wat dít alles kon versoen, het ons nog nie gesien nie, maar Rassie Erasmus staan gereed om die uitdaging te omarm in vanjaar se Rugbykampioenskap.

Suid-Afrika se veldtog begin aanstaande Saterdag met ’n toets teen Argentinië in Durban.

“Wen is altyd die belangrikste en soos in Junie ook gegeld het, sal ek waarskynlik nie ná die Rugbykampioenskap hier sit as ons baie swak vaar nie,” sê Erasmus.

Wen is altyd die belangrikste en soos in Junie ook gegeld het, sal ek waarskynlik nie ná die Rugbykampioenskap hier sit as ons baie swak vaar nie.
Rassie Erasmus

“Ons wil wen en het ook die langtermyndoelwit om te bou. Ek weet dat dit mense soms frustreer as jy sê jy bou vir die Wêreldbeker (WB)-toernooi. Ek sê egter nie dat mense my op grond van die Wêreldbeker-toernooi moet beoordeel nie. Ek sê kom ons bou ’n span vir daardie toernooi, terwyl ons in die hede ook wen. Dis ’n groot doelwit om die Rugbykampioenskap te wen.”

Om net vir Argentinië te klop, sal klaar ’n uitdaging wees. Die Bokke sal die gunsteling wees, maar het drie jaar gelede juis in Durban met 25-37 teen die Poemas verloor.

Dan is daar ’n Wallaby-span wat verbeter en die All Blacks, wat die Rugbykampioenskap gerieflik behoort te wen.

“Die All Blacks het ’n ongelooflike groep. Wat my veral tref, is hoeveel spelers uit elkeen van hul franchises kom en dat hul samespel steeds só goed is. Dis onwaar dat Nieu-Seeland se spanne dieselfde speelstyl volg. Die Crusaders en Hurricanes het uiteenlopende speelstyle.

Willie le Roux / Foto: Gallo Images

“Die veelsydigheid, ervaring en samestelling van die All Blacks se groep is opwindend en dit gaan vir ons ’n uitdaging wees. Almal weet dit.”

Nieu-Seeland kan moontlik ’n eksperimentele span kies met die oog op die WB-toernooi, maar sonder om noemenswaardig – indien enigsins – verswak te word.

Erasmus het nie daardie luukse nie en dit gaan interessant wees om te sien hoe hy sy kaarte skommel vir die eerste twee wedstryde teen Argentinië in vanjaar se reeks.

Die Bokke speel ’n week ná die kragmeting in Durban teen die Poemas in Mendoza.

Terwyl Damian de Allende weens ’n skouerbesering nie by die groep ingesluit is nie, het hy vandeesweek saam met die Bokke geoefen. Volgens Erasmus kan hy dalk selfs fiks wees vir aanstaande Saterdag se wedstryd.

In die volgehoue afwesigheid van Frans Steyn en Jan Serfontein, sal André Esterhuizen en De Allende dit om die nr. 12-trui uitspook.

Dit gaan ook interessant wees om te sien wat Erasmus met sy agterste driehoek in die mou voer gegewe die perke wat glo deur Engelse klubs op hom geplaas is vir die aanwending van Willie le Roux op heelagter en Faf de Klerk op skrumskakel.

Le Roux het glo baie op heelagter geoefen vandeesweek en indien dit waar is dat hy slegs drie van die Bokke se ses wedstryde mag speel, sal Erasmus gemengde gevoelens hê oor wanneer om hom te kies.

Aan die een kant maak dit sin om hom vir die taaier uitdagings teen die All Blacks en Wallabies te kies, maar aan die ander kant kan hy die Bokke help om hopelik met bonuspuntseges uit die stryd teen die Poemas te tree.

Erasmus het wel gesê dat Damian Willemse sy toetsbuiging teen Argentinië gaan maak – waarskynlik op heelagter. Die vraag is natuurlik net of dit in die beginspan of as plaasvervanger gaan wees.

* Bok-program in Rugbykampioenskap

18 Augustus: Argentinië (Durban), 25 Augustus: Argentinië (Mendoza), 08 September: Australië (Brisbane), 15 September: Nieu-Seeland (Wellington), 29 September: Australië (Port Elizabeth), 06 Oktober: Nieu-Seeland (Pretoria).

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Springbok  |  All Blacks  |  Faf De Klerk  |  Willie Le Roux
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.