Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Is Matfield die Leeus se voorspeler-breier?

Victor Matfield is die haas wat Donderdag uit die hoed getrek kan word as die Leeus se nuwe voorspeler-afrigter.

Victor Matfield in sy speeldae as Springbokslot. Hy is die voorkeur-kandidaat om Donderdag aangekondig te word as die Leeus se nuwe voorspeler-afrigter. Foto: Gallo Images

Met Johan Ackermann wat vandag by sy nuwe klub Gloucester in Engeland begin en Swys de Bruin wat by hom oorgeneem het as hoofafrigter, is die een vakature wat in die Leeus se afrigtingspan gevul moet word, dié van voorspeler-afrigter.

Na wat verneem word, gaan ’n hoëprofiel-aanstelling gedoen word en dié eertydse Springbokslot voldoen gewis aan daardie profiel.

Dit is geen geheim nie dat Matfield sedert sy uittrede baie gretig is om by afrigting betrokke te raak.

Sy naam, saam met dié van sy eertydse spanmaat by die Blou Bulle en die Bokke, Fourie du Preez, word geruime tyd al gekoppel aan die Bulle se afrigtingspan, maar dit het toe nooit werklikheid geword nie.

As Matfield Donderdag aangekondig word as die Leeus se nuwe voorspeler-ghoeroe, sal die Leeus hom so half onder die neus van die Bulle weggeraap het.

Matfield en De Bruin kom al ’n lang pad saam, met Matfield wat by Griekwas in Kimberley gespeel het toe De Bruin tussen 1999 en 2003 daar die afrigter was.

Hulle is dus nie onbekendes vir mekaar nie.

De Bruin en Ackermann se paaie het toevallig ook gekruis by Griekwas.

Van die ander kandidate as voorspeler-afrigter is Wessel Roux, die eertydse Blou Bul wat die Goue Leeus se voorhoede in SuperSport se uitdaagreeks onder hande gehad het en ook vir die eerste paar wedstryde in die Curriebeker-reeks daardie taak verrig het.

Dan word Balie Swart, die eertydse Springbok-voorryman wat deel was van die 1995-span wat die Wêreldbeker verower het, se naam ook genoem.

Barend Pieterse, wat by die Kings se afrigtingspan in Port Elizabeth betrokke is, word ook as ’n kandidaat beskou.

Tog is Matfield die naam wat uitstaan en behoort hy Donderdag aangekondig te word as die man wat in Ackermann se voetspore moet trap om die Leeus se agttal te laat brul.

Meer oor:  Leeus  |  Victor Matfield  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.