Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Is privatisering ‘reddingsboei’ vir sewesrugby?

Die Covid-19-pandemie kan dalk net die sneller wees wat veroorsaak dat nasionale sewesrugbyspanne in die toekoms geprivatiseer word.

Dan Norton van Engeland in aksie tydens die Londen-sewestoernooi in 2019. Foto: Getty Images

Dít volg nadat die Engelse Rugbyunie (RFU) onlangs, volgens ’n berig in The Telegraph, aan dié land se sewesspelers gesê het dat hul kontrakte nie hernu gaan word wanneer dit einde Augustus verstryk nie.

Die onsekerheid oor wanneer Wêreldrugby se sewesreeks gaan hervat is een van die redes hoekom die RFU in die huidige ekonomiese klimaat nie meer die land se sewesspan finansieel kan ondersteun soos, wat voorheen die geval was nie.

Nadat die laaste vier toernooie van die vorige seisoen van die wêreldreeks gekanselleer is, het die internasionale beheerliggaam kort daarna ook die eerste twee toernooie van die nuwe seisoen, in Dubai en Kaapstad, afgelas.

Daar is lankal reeds gerugte dat ’n span van Brittanje – soos met die Olimpiese Spele die geval is – ook aan die Wêreldreeks kan deelneem. Dit sal ekonomiese sin maak, maar of veral die Skotte hiervoor te vinde gaan wees, is ’n ope vraag.

Sou Engeland nie meer gekontrakteerde sewesspelers hê nie, sal dit beteken dat hy nie meer altyd op sy beste spelers se knoppies vir toernooie kan druk nie. Maar die RFU se besluit beteken nie noodwendig ’n doodskoot vir sewesrugby in Engeland nie.

Mike Friday, afrigter van Amerika, het reeds in April aan talkingrugbyunion.co.uk gesê dat die Covid-19-pandemie kan veroorsaak dat daar met nuwe oë na die spel gekyk moet word. Selfs in Amerikaanse rugby gaan dinge maar broekskeur, met USA Rugby wat vroeër vanjaar aansoek gedoen het om bankrot verklaar te word.

Mike Friday, afrigter van Amerika, glo privatisering is die pad na volhoubaarheid in sewesrugby. Foto: Getty Images

Een van die opsies wat Friday toe genoem het, is dat spanne geprivatiseer word soos die geval is in Formule Een en fietsry.

“Het die Covid-19-pandemie ons die geleentheid gegee om met nuwe oë na die Wêreldreeks te kyk? ’n Skoon stuk papier waarop ons kan neerpen hoe die Wêreldreeks in die volgende vier tot 10 jaar moet lyk,” het hy toe gesê.

Friday het nou weer op Twitter gesê dat private eienaarskap ’n manier is om die volhoubaarheid van sewesrugby te verseker.

Die oud-Blitsbok Frankie Horne reken wel die RFU se besluit kan ernstige gevolge hê. Hoewel die Engelse nog nooit die Wêreldreeks kon wen nie, is dit tog ’n rugbymoondheid – dit sal immers ongehoord wees dat Engeland byvoorbeeld glad nie aan die Wêreldreeks deelneem nie.

Horne eggo Friday se woorde dat spanne in die toekoms moet privatiseer en “ ’n private borg kry soos Team Sky (deesdae Ineos-fietsryspan)”.

“Engeland het die laaste ruk ’n bietjie gesukkel, hoewel hulle oor ’n potensieel goeie span beskik – een wat eintlik moet wen,” sê Horne.

• Engeland het die 2019-’20-seisoen van die Wêreldreeks in die vyfde plek afgesluit.


Meer oor:  Sewesrugby  |  Sewesreeks  |  Rfu  |  Frankie Horne  |  Mike Friday
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.