Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Is Proudfoot nog ’n Jones-haas in hoed?
Die stilte voor die storm. Engeland se afrigter, Eddie Jones (links), en sy eweknie van Ierland, Joe Schmidt, in 2018 op Twickenham. Foto: Getty Images

Die aanstelling van die oud-Springbok-hulpafrigter Matt Proudfoot vroeër vanjaar om Engeland by te staan, is ’n ou laai van Eddie Jones om met sy teenstanders se koppe te probeer smokkel.

Die Bokke se skrumwerk was verlede jaar een van die redes hoekom hulle die Wêreldbeker verower het, en Proudfoot se aandeel daarin kan nie misgekyk word nie.

Nou het Joe Schmidt, voormalige afrigter van Ierland, onthul hoe die slinkse Jones hom ook amper uitoorlê het. Schmidt het Maandag gedurende ’n webinaar van TuksRugby en die Suid-Afrikaanse Rugbylegendes-vereniging sy idees rondom skopwerk in die moderne spel gedeel. Hy het ook in die proses na Jones se vindingryke planne verwys.

“Drie jaar gelede, in 2018, toe ons teen hulle (Engeland) in die laaste wedstryd van die Sesnasies-reeks te staan gekom het en op die Grand Slam jag gemaak het, het hulle die doelgebied (op Twickenham) met twee meter verleng

“Hulle het dit gedoen omdat hulle die doelgebied wou gebruik om die bal oor ons koppe te skop. Hulle het geweet, ongelukkig vir ons, dat Andy Farrell vir vier jaar hul verdedigingsafrigter was voordat hy Ierland s’n geword het,” sê Schmidt.

Die Rose het dus geweet hoe Farrell oor verdediging dink en geweet dat Ierland dikwels net een speler agter die voorste linie van opskiet-verdedigers het wat dekking moet verskaf. Engeland se plan was om skoppe oor die Ierse verdedigers se koppe te sit, wat dan gejaag word – iets wat dan daardie een, of dalk twee spelers agter, onder groot druk sou plaas.

Tog kon hulle nie daardie dag wen nie, met Ierland wat met 24-15 koning gekraai het.

Jones se strategie om die doelgebied te vergroot, het boonop in sy gesig ontplof toe die Ierse vleuel Jacob Stockdale ’n bal toegeval het vir ’n drie, wat met die gewone doodlyn nie vyf punte sou wees nie.

Een van die neigings wat Schmidt sê hy deesdae waarneem, is dat skoppers van ’n tipe hangskop gebruik maak wat tevore slegs gedurende oefensessies gebruik is.

Matt Proudfoot (links) en Vincent Koch op ’n mediakonferensie by die Wêreldbeker-toernooi in 2019 in Japan. Foto: Getty Images

“Baie van die hangskoppe wat vandag gesien word, is óf spiraalskoppe óf skoppe wat ‘dryf’. Wat ons sien, is dat die skopper nie die bal op die toon (van die bal) tref nie.

“(Iemand soos) Jordie Barrett (wat vir die Hurricanes en All Blacks speel) probeer bewustelik om die bal in die middel te tref of om die bal in ’n spiraal te laat trek. Wat dit beteken, is dat die bal in die lug dryf en skielik kan afkom of wegbeweeg,” sê Schmidt.

Dit maak dit vir die verdedigende spelers baie moeiliker as ’n tradisionele hangskop, waarvan die trajek redelik voorspelbaar vir spelers is. Die nuwe manier van skop, word selde gebruik om in die lug om die bal mee te ding, maar eerder om die ontvanger onder druk te plaas – in die hoop dat hy die bal gaan aanslaan, wat ’n skrum vir die aanvallende span gaan beteken.

“So, wat dit beteken vir die ontvanger (speler wat die bal inwag), is hoewel daar dalk niks druk op hom is nie, raak hy heeltemal gedisoriënteerd onder die bal,” sê Schmidt.

“Baie spanne, ons (Ierland) ook, het dit gereeld aan die einde van oefeninge gedoen om spiraalskoppe te vang. Maar ons het dit nooit in wedstryde gebruik nie.”

• Schmidt (54) het die Iere tussen 2013 en 2019 afgerig. Hy het die leisels neergelê ná 2019 se Wêreldbeker-toernooi in Japan, met Farrell wat as hoofafrigter oorgeneem het.

Ierland is vooraf as een van die gunstelinge beskou om in Japan te wen, maar is in die kwarteindronde met 46-14 deur Nieu-Seeland afgeransel.

Meer oor:  Matt Proudfoot  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Eddie Jones  |  Engeland  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.