
Sonny Bill Williams was vanjaar vir ’n wyle vir die Australiese rugbyligaspan die Sydney Roosters in aksie. Foto: Getty Images
Die voormalige All Black-ster Sonny Bill Williams se Toronto Wolfpack-rugbyligaspan is sy plek in 2021 se Superliga kwyt.
Hy sal dus nie in staat wees om die tweede helfte van sy $10 miljoen-ooreenkoms van twee jaar met die Kanadese klub te eerbiedig nie.
Toronto, wat vanjaar sy buiging in die Superliga sou maak, het Williams (35) in Julie van sy kontrak vrygestel weens finansiële probleme weens die Covid-19-pandemie.
Williams het hom tydelik in Australië by die Sydney Roosters aangesluit, maar Stuff berig hy het aangedui dit is straks sy laaste jaar in die NRL nadat Sydney verlede maand in die uitspeelrondes uitgeboender is.
“Ek is nie seker nie, ek moet ’n paar balle in die spel hou en dit met my vrou bespreek,” sê hy.
As enigiets verwerklik word, sal ek eers met die baas moet gesels.
Boks is ’n ander opsie vir Williams. Hy was in 2015 teen Chauncey Welliver in Sydney laas in aksie, maar hy kan binnekort weer in die kryt klim teen die voormalige AFL-ster Barry Hall.
Toronto se aansoek om volgende jaar terug te keer is deur die Superliga-raad in ’n stemming met 8-4 geweier.
“Ons is uiteraard teleurgesteld,” sê Bob Hunter, voorsitter en uitvoerende hoof van die Wolfpack.
Die klub is in 2016 deur die Kanadese entrepreneur Eric Perez gestig. Dit het op twee geleenthede in drie jaar promosie gewen om speelkans in die Superliga te verdien.
Williams het ook onlangs met die Australiese uitsaaier Nine oor sy rugbytoekoms gesels.
“Hierdie ou ledemate, dit is taai om weekliks uit die wegspringblok te kom,” sê hy.
“Ons sal sien wat met Toronto gebeur en as dit nie uitwerk nie, wie weet, dan staan ek dalk volgende jaar hier met daardie mikrofoon in die hand.”
– Sportredaksie