Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Italië mik na Bokke vir skok in Japan

Conor O’Shea, Italië se rugbyafrigter, het sy visier op die Bokke ingestel om ’n moontlike skokoorwinning by vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan te behaal.

Conor O'Shea, Italië se hoofafrigter. Foto: Getty Images

Italië is saam met die Bokke, All Blacks, Namibië en Kanada in Groep B geloot vir dié skouspel wat van 20 September tot 2 November duur.

O’Shea glo hul weg uit die groepfase en tot die kwarteindronde, loop deur ’n sege oor die Bokke. Kry hulle dít reg, sal Italië vir die eerste keer in nege probeerslae tot die kwarteindronde deurdring.

O’Shea glo die verbetering in Azzurri-geledere sedert hy in 2016 die leisels oorgeneem het, dui daarop dat die span weliswaar ’n kans staan om geskiedenis te maak. Dit sal ook nie die eerste keer wees dat Italië die Bokke skok nie. Die Azzurri het die Bokke in 2016 geklop.

“Vergeleke met toe ek my reis hier begin het, het ons nou beslis ’n beter span, met meer interne mededinging. Ons lewer baie beter vertonings,” sê O’Shea.

Willie le Roux, Warren Whiteley, Johan Goosen en Vincent Koch loop platgeslaan van die veld nadat die Bokke in 2016 teen Italië verloor het. Foto: Getty Images

“Ons het onlangs gewys ons kan met die topspanne meeding as ons op ons beste is.

“By die Wêreldbeker-toernooi moet ons beslis ons wedstryde teen Namibië en Kanada wen en dan op die twee groot uitdagings fokus.

“Ek glo teen Suid-Afrika, met hierdie span, kan ons ’n geleentheid skep op ons dag.”

Italië het die Bokke drie jaar gelede met 20-18 in Florence verslaan. Hulle kon in 15 probeerslae nog nooit die All Blacks klop nie.

’n Sege met 85-15 teen Rusland in San Benedetto del Tronto Saterdag sal die Italianers met ’n huppel in hul stap na Japan laat vertrek.

O’Shea sê dit was die taaiste taak tot nog toe in sy rugbyloopbaan om sy groep van 31 spelers te kies en diegene wat dit nie gemaak het nie, in kennis te stel.

Die strydros-agtsteman Sergio Parisse sal die span by sy vyfde WB-toernooi aanvoer, terwyl die ervare haker Leonardo Ghiraldini ook gekies is, ondanks ’n ernstige kniebesering wat hy in die Sesnasies-reeks opgedoen het.

Parisse, Ghiraldini en die veelsydige voorspeler Alessandro Zanni, wat al almal in meer as 100 toetse gespeel het, sal die ervare manne in ’n jong groep wees.

“Leo, saam met Parisse en Zanni, sal in die laaste wedstryde van ’n uitsonderlike internasionale loopbaan speel.

“Ons wil hul drome waar maak en ons het die ammunisie om dit te doen.”

Italië se eerste WB-wedstryd is op 22 September teen Namibië in Osaka. – Reuters

Italië se WB-groep:
Voorspelers: Simone Ferrari, Andrea Lovotti, Tiziano Pasquali, Nicola Quaglio, Marco Riccioni, Federico Zani, Luca Bigi, Oliviero Fabiani, Leonardo Ghiraldini, Dean Budd, Federico Ruzza, David Sisi, Alessandro Zanni, Maxime Mbanda, Sebastian Negri, Sergio Parisse, Jake Polledri, Abraham Steyn. Agterspelers: Callum Braley, Guglielmo Palazzani, Tito Tebaldi, Tommaso Allan, Carlo Canna, Tommaso Benvenuti, Michele Campagnaro, Luca Morisi, Mattia Bellini, Giulio Bisegni, Jayden Hayward, Matteo Minozzi, Edoardo Padovani. 

Meer oor:  Bokke  |  Italië  |  Wêreldbeker-Toernooi  |  Wêreldbeker  |  Conor O'shea  |  Springbokke  |  Japan  |  Wb-Toernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.