Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ivan: Fourie se insette goud werd
Ivan van Zyl, skrumskakel van die Bulle, is Saterdagaand op soek na ’n gaping teen die Haaie op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Soos wat dit ’n skrumskakel betaam wat sy plek ken, het die Bulle se Ivan van Zyl groot lofprysing vir sy voorspelers wanneer hy oor sy pronkvertoning teen die Haaie uitgevra word.

Van Zyl was een van die groot uitblinkers in Saterdagaand se Bulle-oorwinning van 41-14 oor die Haaie op Loftus Versfeld in die Superrugby Unlocked-reeks.

So byvoorbeeld was Marco van Staden, flank van die Bulle, se drie in die eerste helfte aan Van Zyl, wat digby ’n losgemaal deur ’n gaping gesny het, te danke.

“Die voorspelers het dit baie makliker gemaak. Almal weet as jou pak vorentoe speel, maak hulle dit vir die skrumskakel en losskakel baie makliker om goeie besluite te neem.

Almal weet as jou pak vorentoe speel, maak hulle dit vir die skrumskakel en losskakel baie makliker om goeie besluite te neem.
Ivan van Zyl

“Die besluitneming was in die geheel baie beter en ons het ons kanse benut.

“Ek is baie tevrede met my spel, maar die grondslag is vir my geskep,” sê Loftus se dominee-skrummie beskeie.

Die oorwinning kon ná ’n taamlike onoortuigende begin in die Superreeks nie op ’n beter tyd vir die Bulle gekom het nie.

“Dit gee ons baie meer selfvertroue nadat ons in die eerste twee wedstryde (teen die Pumas en Cheetahs) nie ritme kon kry nie.

“Omdat dit so ’n kort kompetisie is, is elke wedstryd belangrik. Ons kom nou teen die Stormers en daarna die Leeus te staan en dit is belangrik om daarop voort te bou.”

Soos wat met vorige Bulle-breiers die geval was, span Jake White die twee Springbok-skrumskakels, Van Zyl en Embrose Papier, om die beurt in.

“Ons het die gesprek al baie gehad en ek en Emy (Papier) kom baie goed oor die weg.

“Dit is seker tot ’n mate ’n kopskuif wat ons moes maak en dit is iets waarmee coach Jake baie goed is.

Fourie du Preez is hier in 2015 in sy laaste Wêreldbeker-toernooi in aksie. Foto: Getty Images

“Die span kom eerste en die doelwit is om te wen, ongeag wie in die beginspan is. Ons albei weet die afrigtingspan staan agter ons en dit gee ’n ou baie selfvertroue.”

Die voormalige Bulle-legende Fourie du Preez het boonop onlangs vir Van Zyl-hulle begin touwys maak.

“Fourie was een van my kinderhelde en om nou saam met iemand van sy kaliber te werk, is van onskatbare waarde.

“Ons het nog net ’n paar sessies saam met hom gehad. Ek besef nogmaals dat die klein, tegniese goed ’n groot verskil op dié vlak maak.

“Ek is baie dankbaar om by die beste te kan leer.”

Fourie was een van my kinderhelde en om nou saam met iemand van sy kaliber te werk, is van onskatbare waarde.
Ivan van Zyl

Saterdagaand kry dié Bulle-duo weer ’n kans om teen die Stormers se Bok Herschel Jantjies te wedywer.

Van Zyl maak nie veel van die tweestryd nie.

“Ek is opgewonde oor die uitdaging. Dit gaan nogmaals oor dit wat nodig gaan wees om te wen.

White maak Donderdag sy span bekend.

Meer oor:  Ivan Van Zyl  |  Fourie Du Preez  |  Pretoria  |  Loftus  |  Rugby  |  Bulle  |  Springbok  |  Unlocked-Reeks  |  Skrumskakel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.