Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ivan wil CB vashou voordat hy groet

Dankie, Jake.

Min sofakenners sal stry oor die feit dat die Bul-skrumskakel Ivan van Zyl in die stadium die voorste nr. 9 in die land is.

Ivan van Zyl, Springbok-skrumskakel van die Bulle, Saterdag op die aanval in die Curriebeker-halfeindstryd teen die Leeus. Foto: Gallo Images

Vra jy Loftus Versfeld se dominee waarom hy die seisoen so op sy stukke is, kom die antwoord vinnig: Jake White.

Van Zyl sê hy het nog altyd geglo sy basiese vaardighede is goed en hy was nooit bang om hard te werk nie.

Coach Jake het my gehelp om my spel na ’n ander vlak te vat. Nog voordat die seisoen begin het (verlede jaar), het hy daardie selfgeloof vir my kom gee. Dit gee jou ook vryheid en is iets groots wat ek ervaar het. Ek is daarvoor baie dankbaar,” sê hy.

“Dit is altyd makliker as die span goed speel. Wanneer die span met selfvertroue begin speel, kry al die spelers ook selfvertroue.”

Van Zyl glo die Bulle het onder White se leiding ’n duidelike plan gekry en hy benadruk dit is ’n hegte eenheid wat Saterdag op Loftus teen die Haaie in die Curriebeker-eindstryd te staan kom.

“Daar is ’n goeie mengsel van senior spelers en jong ouens en daar is geen ego’s nie. Dit gaan nie oor die individu nie,” sê die skrumskakel.

Coach Jake en al die ander afrigters en betrokkenes was die afgelope paar maande ongelooflik met hul leierskap. Ek geniet elke oomblik op en van die veld af.”

Dit is ’n enorme naweek vir my om in ’n Curriebeker-eindstryd te speel en dit sal vir my alles beteken om daardie beker Saterdag te kan vashou.
Ivan van Zyl

Van Zyl is al agt jaar ’n Bul en die span het in die tyd nie ’n enkele beker gewen nie – totdat die Bulle laat verlede jaar die Unlocked Superreeks-kroon verower het.

Nou het hulle die kans om dit Saterdag 2 uit 2 te maak.

“Dit is die droom. Dit is ’n enorme naweek vir my om in ’n Curriebeker-eindstryd te speel en dit sal vir my alles beteken om daardie beker Saterdag te kan vashou.”

Hy en die Bulle se ander Springbok-skrumskakel, Embrose Papier, kom teen die Haaie-duo van Sanele Nohamba en Jaden Hendrikse te staan. Nohamba en Hendrikse is duidelik albei spelers wat heel bekkig is op die veld.

“Ja, dit is ’n taktiek van hulle. Hulle probeer hulself so in die wedstryd kry. Dit is gelukkig nie iets wat my pla nie. Jy hoor dit, maar ook nie eintlik nie. Op die ou einde gaan dit oor hoe jy speel en nie wat jy te sê het nie,” sê Van Zyl.

“Albei is goeie spelers en ek sien uit na die uitdaging teen hulle.”

Van Zyl en Papier sal iewers in die week weer ’n sessie saam met Fourie du Preez, een van die goue seuns van Loftus, inwerk.

“Ons is bevoorreg om saam met hom te werk, nie net wat die basiese beginsels en vaardighede betref nie, maar ook om by hom van sy sielkundige ingesteldheid te leer. Hy maak ’n groot verskil en dit is enorm vir ons,” sê Van Zyl.

“Ek is ook baie dank teenoor coach Chris (Rossouw) verskuldig. Hy het ’n paar sleutelkwessies in sy spel geïdentifiseer en my ongelooflik baie gehelp daarmee.”

Dit is Van Zyl se laaste paar bladsye van sy Bul-hoofstuk voordat hy hom in Junie by Saracens in Engeland aansluit.

Maar voor dan is hy van plan om eers ’n paar groot slukke uit sir Donald Currie se beker te drink.

Meer oor:  Haaie  |  Ivan Van Zyl  |  Jake White  |  Bulle  |  Curriebeker-Eindstryd  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.