Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ixias draf Shimlas wéér kaf

Nadat die Ixias Sondag hul Bloemfonteinse buurman, die Shimlas, in die Varsitybeker-rugbyreeks geklop het, bestaan daar geen twyfel meer oor watter universiteit die rugbykrag in die Rosestad is nie.

Die Ixias se losskakel, Charles Williams, was pure generaal Sondag teen die Shimlas in Pretoria. Foto: Varsity Cup

Die Ixias het met 31-24 in Pretoria gewen. Wat die sege so besonders maak, is dat dit die derde agtereenvolgende jaar is dat die Ixias die eens magtige Shimlas in dié reeks klop.

Oudergewoonte was die Ixias vir die grootste gedeelte van die wedstryd baas in die skrums, tot so ’n mate dat hul buurman soms meters agteruit gestoot is. Die wenspan se eerste drie, deur die losskakel, Charles Williams, was ná ’n paar stukkies pragtige voetwerk deur daardie klein towenaar Cohen Jasper (heelagter).

Van Williams gepraat, hy is ’n generaal soos min. Met sy skopvoet het hy die Shimlas met reuseskoppe laat omdraai – wat die Ixias toegelaat het om in die regte plekke op die veld te speel.

Agterlangs groei die Ixias se senterpaar, Niell Stannard en Heino Bezuidenhout, met elke wedstryd in statuur. Hulle vul mekaar goed aan en is stewig op die aanval en verdediging. Wanneer Bezuidenhout, ’n oud-Blitsbok, boonop omgekeerde besit by geleentheid vir sy span verseker, kan ’n afrigter tevrede voel.

Die Ixias se voorspelers verdien krediet. Iemand soos die slot Derik Pretorius het goeie balbesit in die lynstane vir sy span verseker. Daarby het hy ’n fisieke teenwoordigheid gehad en op ’n paar goeie lopies met die bal onder die arm afgesit.

Kritiek is wel dat die Ixias in die eerste helfte by meer as een geleentheid balbesit op hul ingooi by lynstane afgestaan het. Daarby was daar hanteerfoute en strafskoppe wat vroeg in die wedstryd afgestaan is.

Dat die Ixias boonop nie ’n bonuspunt kon behaal deur vier drieë aan te teken nie, kan die span later in die reeks duur te staan kom.

In die tweede helfte het die Shimlas ’n paar keer moedig probeer om hulself terug in die wedloop te plaas. So het hul haker, William Moffat, sy tweede drie gedruk, terwyl Janco Klinck ook gedruk het.

Laat in die wedstryd het ’n vreemde ding gebeur. Die Ixias is meer as een keer teruggestoot in die skrums en dit het gevoel of die momentum geskuif het.

Maar helaas is die Shimlas se Cham Zondeki (heelagter) en George Rossouw (plaasvervanger-slot) kort ná mekaar koelkas toe gestuur. Hoewel die Shimlas in hul afwesigheid alles probeer het om nog ’n drie te druk, was dit net-net nie binne hul bereik nie.

Moenie die waarde van dié sege vir Ixias onderskat nie. Om al drie hul wedstryde in die eerste bioborrel te wen sal die spelers laat glo dat hulle vir iets groter as slegs drie seges op ’n streep bestem is.

Puntemakers: Ixias 31 (21): Drieë: Charles Williams, Johannes Terblanche, Niell Stannard. Doelskoppe: Williams (2). Strafdoele: Williams (4).

Shimlas 24 (7): Drieë: William Moffat (2), Janco Klinck. Doelskoppe: JP Duvenage, Ethan Wentzel (2). Strafdoel: Wentzel.

Meer oor:  Shimlas  |  Varsitybeker  |  Ixias  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.