Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ixias herskryf rekordboeke teen Tuks

Vier drieë deur die Ixias se haker, Janus Venter, het Sondagaand die grondslag gelê vir ’n klinkende oorwinning oor Tuks in die Varsitybeker-rugbyreeks – een waarin die Bloemfonteiners die rekordboeke herskryf het.

Die Ixias het ses drieë gedruk om met 41-40 te wen.

Dit loop soos stroop! Cohen Jasper, heelagter van die Ixias, duik oor vir sy drie. Foto: Varsity Cup | Christiaan Kotze

Met dié oorwinning het hulle tot die vierde plek op die punteleer opgeskuif en bevind hulle hul op 27 punte.

Dit is die eerste keer dat die Ixias daarin kon slaag om Tuks in die reeks te klop.

Reeds uit die staanspoor was dit duidelik dat die Ixias weet wat van hulle verwag word. Hulle het teen ’n geweldige tempo afgesit en in die 17de minuut met 15-0 voorgeloop.

Dit was ná Venter oorgeduik het vir sy eerste drie en die wenspan se kaptein, Luvoyo Ndevu (flank), ook vyf punte vir sy span op die telbord gesit het.

Tog het die Pretorianers teruggeveg met drie vinnige drieë.

Maar die Ixias het nie op hulle gewag nie en net voor rustyd het Venter oorgeduik vir sy derde drie van die aand, wat ook die bonuspunt vir die wenspan beteken het.

Tuks het in hierdie tyd twee spelers, Llewellyn Classen (flank) en André van der Merwe (haker), in die koelkas gehad.

Teen rustyd was die telling 27-19 in die Bloemfonteiners se guns.

Die wenspan se vyfde drie, deur Cohen Jasper (heelagter), was ná ’n paar stukkies goeie spel deur onder andere Heino Bezuidenhout (senter) en Emilio Adonis (vleuel).

Daar was ’n paar foute aan die kant van die Ixias. Hulle het byvoorbeeld meer as een keer besit op hul eie ingooi by lynstane verloor en daar was ook hanteerfoute.

Maar die Bloemfonteiners se rolmaalbewegings was uitstekend, met Tuks wat geen plan gehad het om dit te stop nie.

In die laaste sowat 25 minute het die Pretorianers, wat reeds verseker is van ’n plek in die halfeind, alles probeer om ’n sege te behaal.

In die doodsnikke het Tharquinn Manuel vir Tuks gaan druk om die telling 41-40 te maak. Zandré Kruger kon nie twee punte met ’n doelskop bysit om die Pretorianers te laat wen nie.

Nie te lank gelede nie, in 2017, het Tuks die einste Bloemfonteiners met 100-0 in die Jakarandastad verneder.

Die wenner van Dinsdag se wedstryd tussen die Ixias en Noordwes-Universiteit (NWU) sal bepaal wie die vierde span in die halfeind saam met Ikeys, Maties en Tuks sal wees.

Die NWU is vyfde op die punteleer met 26 punte.

Puntemakers: Ixias 41 (27): Drieë: Janus Venter (4), Luvoyo Ndevu, Cohen Jasper (sewepunt-drie). Doelskoppe: Charles Williams, Cohen Jasper (2). Strafdoel: Williams.

Tuks 40 (19): Drieë: Louritz van der Schyff, André van der Merwe, Eduan Lubbe, Zandré Kruger (Strafdrie), Tharquinn Manuel (sewepunt-drie). Doelskoppe: Jaylen James (3).

• Wits het ook Sondag koning gekraai deur die Universiteit van Wes-Kaapland met 40-10 in Pretoria te klop. Ook Maties was aan die wenkant. Die Stellenbossers het die Shimlas met 81-24 verneder.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Ixias  |  Tuks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.