Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ixias skrik laat wakker om Wits te klop

’n Aanvanklik lustelose vertoning deur die Ixias het hulle so byna hul eerste nederlaag in vanjaar se Varsitybeker-rugbyreeks besorg.

Tog het die Bloemfonteiners vasgebyt om ’n begeesterde Wits Donderdag naelskraap met 19-11 in Pretoria te klop. Diegene wat die afgelope paar wedstryde bederf was met die opwindende spel van die span van die Rosestad, het straks sowat 50 minute van die wedstryd gewonder wat skort.

Die vlugvoetige Cohen Jasper, heelagter van die Ixias, het Donderdag ’n paar keer gevaarlik teen Wits in Pretoria gelyk. Foto: Gallo Images

Die wenspan het ’n magdom foute begaan – die bal is byvoorbeeld ’n hele paar keer in kontaksituasies verloor.

Daarby het die Johannesburgers duidelik hul huiswerk gedoen en die Ixias se beweegruimte met goeie lakwerk aan bande gelê.

Die gevolg was ’n rustydtelling van 11-7 in Wits se guns.

Selfs al het die spelers Cohen Jasper (heelagter) en Ricoman Titus (vleuel) goeie lopies vir die wenspan ingekry, kon hulle nie die doellyn oorsteek nie.

Maar toe verwissel die Ixias van rat.

Eers het hul kaptein en flank, Luvuyo Ndevu, in die 59ste minuut oorgeduik vir sy span om die voortou te neem. Kort daarna het Janus Venter (haker) sy tweede drie gedruk om die telling 19-11 in die Bloemfonteiners se guns te maak.

Teen die einde het Wits omtrent kamp opgeslaan in die Ixias se helfte van die veld, maar die wenspan se verdediging het gehou.

Die wenspan se flank Hans Terblanche was uitstekend by die afbreekpunte en hy was sonder twyfel sy span se beste speler.

In nog ’n wedstryd in die studentereeks Donderdag het die Universiteit van Kaapstad se spelers agt keer gaan druk om die Shimlas maklik met 59-5 in die Jakarandstad af te ransel.

Waar dit die Kapenaars se vierde oorwinning op ’n streep is, is die Vrystaters steeds segeloos vanjaar.

Puntemakers:

Ixias 19 (7): Drieë: Janus Venter (2), Luvuyo Ndevu. Doelskoppe: Charles Williams (2).

Wits 11 (11): Drie: Justin Brandon. Strafdoele: Christian Humphries (2).

Meer oor:  Varsitybeker  |  Ixias  |  Wits
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.