Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Grootste sege nog’: Ixias trap Maties
Ja, man! Spelers van die Ixias ná hul geskiedkundige oorwinning oor die Maties Vrydag in Pretoria. Foto: Gallo Images

Ná die Ixias se skoksege oor die Maties in die Varsitybeker-reeks is daar by die Bloemfonteiners nou meer as ooit tevore die geloof dat hulle enige span kan plattrek.

Die Ixias, die kleine Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se rugbyspan, het Vrydag vir die grootste opskudding in die geskiedenis van die studentereeks gesorg deur die beroemde Stellenbossers met 23-18 in Pretoria te klop.

Jy gaan sukkel om ’n trotser afrigter as Pieter Bergh, breier van die Ixias, te kry. Vroeër die week het die Ikeys sy span, weliswaar sonder heelwat sterre wat ’n blaaskans gekry het, met 76-5 afgeransel.

Pieter Bergh, afrigter van die Ixias, nadat die eindfluitjie Vrydag in Pretoria geblaas het. Foto: Gallo Images

“Ek het ná die tyd aan die spelers gesê dit is waarskynlik my grootste sege as afrigter. Om Maties te klop, gegewe die geld en spelers wat hulle het, is massief.”

“Dit is prysenswaardig vir die spelers dat ons teruggekom het van 5-76 en om dan Vrydag 0-15 agter te wees en boonop drie drieë te druk.”

Vrydag teen rustyd was Maties met 15-0 voor. Min mense sou voorspel het dat die Ixias sou wen – maar hulle het. Om sake vir die Ixias te vererger was hul lynstane, een van hul sterkpunte vanjaar, swak, en het hulle baie balbesit daar afgestaan.

“Ek haal my hoed vir Tiaan (Liebenberg, hulpafrigter) en die spelers af dat hulle nie paniekerig geraak het nie en die lynstane kon regmaak.

“Ek dink ons het in die eerste helfte sewe lynstane verloor. Die ouens kon maklik paniekerig geraak het en gewonder het hoe ons gaan wen sonder enige balbesit.”

In die tweede helfte het die Ixias karakter gewys, daardie ding wat nie te koop is nie. Hulle het soos tiere verdedig, aangeval, geskrum en drie drieë gedruk.

Oomblikke voordat die eindfluitjie geblaas het, was die telling 18-elk. Maar die Bloemfonteiners het aanhou glo dat hulle daarin kan slaag om Maties ’n eerste keer te klop.

Toe, in die doodsnikke, spat die bal los met die Maties op die aanval. Die slot Derik Pretorius pik die bal op en stel die vlugvoetige Cohen Jasper (heelagter) in besit, wat op sy beurt deurnael om te gaan afrond. En die Ixias maak geskiedenis.

Behalwe Jasper het ’n aantal spelers soos die baldief Johannes Terblanche (flank), Zinedine Booysen (skrumskakel) en Janu Botha (stut) uitsonderlik vertoon.

Tiaan Liebenberg, voorspeler-afrigter van die Ixias. Foto: Gallo Images

“Die spelers is op ’n goeie plek. Hulle glo hulle kan enige span wen,” sê Bergh.

“Dit is reeds ons beste seisoen tot nog toe. Maar die ouens het ambisie en wil aanhou om geskiedenis te maak.”

Met slegs drie rondes in die Varsitybeker oor, bevind die Ixias hulle in die derde plek op die puntelys en is ’n plek in die uitspeelrondes binne hul bereik.

Hul teenstanders in die derde bioborrel, wat op 10 Mei begin, is die Noordwes-Universiteit, die Universiteit van Wes-Kaapland en Tuks.

Nog ’n oorwinning of twee behoort genoeg te wees om die Ixias die eerste keer ooit van ’n plek in die halfeindronde te verseker. Nie sleg vir ’n span wat nog tot in 2014 in die Skildreeks, die tweede liga, gespeel het nie. En daarna lank gesukkel het om sy voete in die Varsitybeker te vind.

Maar by SUT, waar daar net een rugbyveld is, en met ’n baie kleiner begroting as die groter universiteite se spanne, is deeglike beplanning, karakter en deursettingsvermoë aan die orde van die dag.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Ixias  |  Maties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.