Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jaaroorsig: Grey wys wie’s die reus

Die 2019 skolerugby-seisoen het volkome aan een uitsonderlike span behoort: Die eerste rugbyspan van Grey-kollege in Bloemfontein.

Grey Kollege se bielie, Franco Knoetze, op die aanval vir sy skool se eerste span teen die Hoër Jongenskool Paarl. Foto: Gallo Images

Die span van die Rosestad was die afgelope dekade onoorwonne in 2010, 2011 en 2018, en vanjaar het hulle weer dié prestasie behaal.

In hul 17 wedstryde het hulle nie minder nie as 909 punte opgestapel en net 321 afgestaan. Dis ’n gemiddelde telling van 53-18 en ’n gemiddelde punteverskil van 35 per wedstryd.

Wegholseges teen die Hoërskool Garsfontein (53-30), Christchurch Boys High van Nieu-Seeland (73-26), Hoërskool Outeniqua (64-7), Paarl Gimnasium (47-33), Hoër Jongenskool Paarl (43-24), die Afrikaanse Hoër Seunskool (50-28), Glenwood High School (50-27) en Paul Roos Gimnasium (51-28) het bevestig dat hulle eenvoudig nie hul gelyke gehad het nie.

Die sensasionele losskakel van Paul Roos Gimnasium, Kade Wolhuter, is die koue skouer deur die SA Skolespan se keurders gegee. Foto: Frans Lombard

Oor een ding is daar geen twyfel nie, die afrigtingspan, met Wessel du Plessis voor in die koor, het op merkwaardige wyse voortgebou op dié Springbok-fabriek se suksesresep.

Ofskoon Gimmies ’n groot loesing teen Grey op die lyf geloop is, sal hy steeds sy seisoen as ’n groot sukses beskou. Die rede hiervoor is dat hy die eerste keer sedert 2014 sy bure en aartsvyande, Boishaai, kon troef in hul jaarlikse interskole-wedstryd.

In ’n spannende wedstryd het Gimmies net-net genoeg gedoen om met 18-17 te seëvier.

* In die Noordvaal het die Hoërskool Menlopark ’n nuwe hoofstuk in hul geskiedenisboeke neergepen deur die eerste keer nog die Virsekerbeker-trofee omhoog te hou.

Die Parkies het vir Helpmekaar Kollege van Johannesburg in die eindstryd van Afdeling 1 se Beker-kompetisie met 44-17 geslag om die eerste keer sedert hul stigting in 1963 dié Noordvaal-reeks, wat voorheen as die Beeld-trofee, Direkteurstrofee en Administrateurs-beker bekend gestaan het, te verower.

* Ten spyte daarvan dat die o.18-Cravenweek-toernooi die eerste keer sedert 1984 borgloos was, het die spanne steeds vir vuurwerk gesorg met die onstuitbare span van die Westelike Provinsie wat vir die tweede agtereenvolgende jaar as die “nie-amptelike” kampioen gekroon is.

Hulle het in die hoofwedstryd die Blou Bulle met 56-31 verslaan, maar nietemin was dit vir die Pretorianers ’n massiewe terugkeer nadat hulle in 2018 nie ’n enkele wedstryd kon wen nie.

Sweef soos ’n arend! Die Hoërskool Menlopark se Niel Beukes seil oor die doellyn vir ’n drie in die Virsekerbeker-reeks. Foto: Frans Lombard

Ongelukkig was die toernooi se nagevolge ’n warboel van omstredenheid nadat die Streeptruie en Paul Roos Gimnasium se losskakel, Kade Wolhuter, uit die Suid-Afrikaanse Skolespan gelaat is omdat hy kort voor die toernooi ’n kontrak met die Franse klubspan Montpellier gesluit het. Dít ten spyte daarvan dat hy loshande die beste in sy posisie op skolevlak was in 2019.

Die toekoms van die Cravenweek, tesame met al die nasionale jeugweke, is egter tans in die wildernis nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie steeds nie ’n nuwe borg kon opspoor nadat Coca-Cola hom einde 2018 onttrek het nie.

Of dié toernooi in 2020 in Port Elizabeth sal voortgaan, sal net die tyd leer.

* Paul Roos Gimnasium se Maroen-masjien het ook Sanix se Wêreld-Jeugtoernooi gewen wat in Fukuoka, Japan, gehou is.

In die eindstryd het hulle die gedugte St. Peter’s College van Auckland, Nieu-Seeland, met 52-5 platgevee.

* Die Wêreldskolefees het weer eens gewys dat Suid-Afrika nie sy gelyke het in skolerugby nie. Die Suid-Afrikaners het in 17 van die 20 wedstryde met die louere weggestap, met een gelykopuitslag en twee nederlae. Die twee nederlae was egter uitgedeel deur die Wêreld XV-uitnodigingspan, wat uit vier Italianers en die res Suid-Afrikaners bestaan het. Hulle het die WP se uitnodigingspan (76-29) en SACS (25-15) geklop.

Die toernooi sal in 2020 deur Affies aangebied word vir hul eeufeesvieringe.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.